Nuus 13:00
BULLETIN 11 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie kinders sterf toe ‘n taxi in ‘n crèche in Pietermaritzburg injaag
# Die Konstitusionele Hof beslis mans mag hul vrouens se vanne aanneem
# En rugby: Vier veranderings aan die Wallabies se span vir die wedstryd teen die Pumas
# Drie kinders tussen die ouderdomme van nege en 11-jaar is dood toe ‘n taxi in ‘n crèche in Imbali, Pietermaritzburg, vasgejaag het. Volgens SABC News is elf mense beseer, van wie twee in ‘n bedenklike toestand is. Die bestuurder het glo voor die ongeluk beheer verloor. Nooddienste het hulle na die toneel gehaas om beseerdes by te staan, terwyl die polisie ‘n ondersoek instel na die oorsaak van die ongeluk.
# Die Konstitusionele Hof het in ‘n geskiedkundige beslissing gelas mans mag kragtens wet die vanne van hul vrouens aanneem, en dele van Artikel 26 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes ongrondwetlik verklaar. Dit volg nadat twee egpare aangevoer het die wet kom neer op geslags-diskriminasie. Regter Leona Theron sê die gebruik is gewortel in koloniale patriargie wat vroue in minderwaardige posisies plaas. Sy het die Parlement 24-maande gegee om die wet te wysig:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die adjunk-minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê hulle is vasbesloste om meer sigbare wetstoepassing en hefboomtegnologie in te stel vir beskerming by howe. In die jongste geval is ‘n man verlede week buite die Landdroshof in Athlone, Kaapstad, doodgeskiet en twee mense gewond. Polisie-woordvoerder Kamogelo Mogotsi sê hulle oorweeg ook die wyer gebruik van videoverbindings om die vervoer van verhoorafwagtendes te beperk:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het vier veranderings aangebring vir Saterdag se tweede Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Sydney. Die veteraan-stut James Slipper keer na ‘n besering terug vir sy 149ste toets. Tane Edmed sal die eerste keer in die opdrafspan speel in die plek van die beseerde Tom Lynagh. Dit is een van twee veranderings aan die agterlyn, met Hunter Paisami wat vir Len Ikitau vervang en Joseph-Aukuso Suaalii se sentermaat sal wees. Jeremy Williams keer terug na die beginspan as Tom Hooper se slotmaat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-991-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-618-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, die finaliste vir die 14de Eco-Logic-toekennings is amptelik aangekondig. Dit erken prestasies in 12 kategorieë, insluitend oplossings vir klimaatverandering, waterbesparing, sirkulêre ekonomiese projekte, eko-modes en gemeenskapgedrewe projekte. Die finaliste sluit in Sankub, Wildlife ACT Innovations, Re.Bag.Re.Use en die Volhoubaarheids-instituut. Die stigter van die toekennings, David Parry-Davies, sê die finaliste verteenwoordig die beste Suid-Afrikaanse eko-kampioene. Die wenners sal op 27 Oktober aangekondig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….