Nuus 13:00
BULLETIN 8 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki is vol vertroue die G20-beraad sal suksesvol wees ondanks Trump se afwesigheid
# Minister Creecy loof Transnet-haweterminale se operasionele keerpunt
# En rugby: Erasmus maak groot veranderings aan die Bokspan na die nederlaag in Auckland
# Oudpresident Thabo Mbeki is vol vertroue dat die G20-leiersberaad in Suid-Afrika suksesvol sal wees al het die Amerikaanse president, Donald Trump, besluit om dit nie by te woon nie. Hy stuur sy visepresident, JD Vance, in sy plek. Klimaatsverandering, handel en ekonomiese herstel sal op die beraad in November bespreek word, met Suid-Afrika wat voorrang sal gee aan inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling. Mbeki het in Pretoria beklemtoon die krag van die G20-beraad lê in gesamentlike optrede:
Die Moja-navorsingsinstituut sê intussen Mbeki moenie toelaat dat die gewese president van die Demokratiese Republiek die Kongo, Joseph Kabila, hom as vredemaker en held voordoen nie. Mbeki en sy stigting het onder skoot gekom omdat hy verteenwoordigers van die Rwandees-gesteunde rebellegroep, M23, uitgenooi het na die tweede Afrika Vrede-en-Veiligheidsdialoog in Pretoria. Grant Harmse van die instituut sê hulle moet onthou dat M23-rebelle vanjaar verantwoordelik was vir die dood van Suid-Afrikaanse soldate in die DRK:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het Transnet se Haweterminale geloof vir sy verbetering in operasionele doeltreffendheid. Die instelling het sedert Junie vanjaar gemiddeld 90-duisend vraghouers per week hanteer, wat ‘n groot verbetering is op verlede jaar se volume van sowat 65-duisend. Op ʼn jaargrondslag is dit ʼn toename van 7,2-persent. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die verbetering word toegeskryf aan nuwe toerusting, ʼn fokus op instandhouding en mensebestuur:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het groot veranderings aan die span aangebring wat Saterdag in hul tweede Rugbykampioenskaps-wedstryd in Wellington teen Nieu-Seeland speel ná die nederlaag in Auckland. Dit sluit in ‘n nuwe skakelpaar – Cobus Reinach en Sacha Feinberg-Mngomezulu – ‘n nuwe senterpaar – Damian Willemse en Canan Moodie – ‘n nuwe vleuel, Ethan Hooker, en ‘n nuwe heelagter, Aphelele Fassi. Siya Kolisi is weer kaptein en terug op flank. Eben Etzebeth, Handré Pollard, Damian de Allende, Willie le Roux, Jesse Kriel en Marco van Staden is uitgelaat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-869-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-613-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-59-sent per vat.
# En laastens, dis vandag Internasionale Geletterdheidsdag waarop die belangrikheid van geletterdheid beklemtoon word om ʼn meer geletterde, vreedsame en volhoubare samelewing te skep. Vanjaar se tema is: Bevorder geletterdheid in die digitale era. Verlede jaar het minstens 739-miljoen mense wêreldwyd nie oor basiese geletterdheidsvaardighede beskik nie. Terselfdertyd het vier uit tien kinders nie basiese leesvaardighede gehad nie. UNESCO sê behalwe lees en skryf op papier, stel geletterdheid mense in staat om veilig en behoorlik toegang te kry tot digitale inhoud om dit te verstaan, te evalueer, te skep, te kommunikeer en te gebruik.
Bly ingeskakel vir meer nuus.