Nuus 13:00
BULLETIN 7 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU is bekommerd oor die afleggings in alle sektore
# Nuwe gevalle van bek-en-klouseer word in die Vrystaat aangemeld
# En Oekraïne se hoofregeringsgebou in Kiëf word vir die eerste keer aangeval
# Cosatu sê hy is diep bekommerd oor die afleggings wat onlangs in verskeie sektore in Suid-Afrika aangekondig is. Die vakbond het onder andere verwys na Ford se plan verlede week om 470 poste te sny. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, het ook na ArcelorMittal Suid-Afrika verwys, wat besluit het om teen die einde van September sy staalbedrywighede in Newcastle en Vereeniging te staak, wat drie-duisend-500 regstreekse poste en ‘n geraamde 100-duisend poste in die waardeketting in gevaar stel:
# Die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het bevestig dat nege nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die provinsie aangemeld is. Dit bring die totaal van bevestigde gevalle op sewentien te staan. Die departement sê die Vrystaat het vier verskillende uitbrekings in die Moqhaka-, Metsimaholo- en Mafube-plaaslikemunisipaliteite. Die departement sê twee gemeenskaplike weidingsgebiede is deur die huidige uitbrekings geraak. Hierdie gebiede bied bykomende uitdagings as gevolg van gedeelde weidingspraktyke en die gebrek aan voldoende heinings.
# Die DA in Johannesburg het in ‘n skrywe aan die burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, ‘n dringende vergadering aangevra. Die party sê die vergadering is om die omstandighede te bespreek wat gelei het tot die dood van twee studente van die Johannesburgse Metropolisie wat na bewering dood is ná ‘n JMPD fiksheidsbeoordeling ‘n week gelede. Die DA-lid, Solomon Maila, sê die twee kandidate, Michael Nyambi en Zwelethu Tekete, was deel van die JMPD se proses om 500 polisiebeamptes vir die 2025/2026-boekjaar te werf en te keur:
# ActionSA in Tshwane moedig inwoners aan om plaaslike boere by die Tshwane Varsproduktemark in Pretoria te ondersteun. Die party sê die mark is oop vir inwoners en besighede wat klein hoeveelhede vrugte en groente wil koop vir huishoudelike verbruik, gesinsgeleenthede en kleinhandel. ActionSA se Henriette Frohlich sê die onlangs goedgekeurde Tshwane Varsproduktemark-gebiedsplan het 15 verbeteringsprojekte geïdentifiseer wat die mark sal help om beter met kleinskaalse handelaars in Marabastad te skakel:
# Oekraïne se hoofregeringsgebou in Kiëf is vir die eerste keer tydens die oorlog in Russiese aanvalle getref. Die Oekraïnse premier Yulia Svyrydenko sê die gebou se dak en boonste verdiepings is beskadig “as gevolg van ‘n vyandelike aanval”, en brandbestryders is besig om die brand te blus. Ten minste twee mense, insluitend ‘n eenjarige kind, is dood en tientalle beseer in die aanvalle oornag, wat ook verskeie woongeboue beskadig het.
# En rugby: Die WP het die Boland Kavaliers gister by die Kaapstad-stadion met 40–22 geklop vir hul eerste oorwinning in die Curriebeker-reeks van die seisoen, terwyl die Goue Leeus die voorlopers Griekwas met 37–7 op Ellis Park getroef het. Op Loftus Versfeld het die Blou Bulle ‘n vasberade Vrystaat Cheetahs met 35–31 afgeweer om hul wentog te behou. Die naweek se uitslae laat die kompetisie wyd oop terwyl spanne voorberei vir volgende naweek se deurslaggewende Ronde 8-botsings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….