Nuus 13:00
BULLETIN 6 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê beleggersvertroue in Suid-Afrika se digitale ekonomie neem toe
# Rugby: Foote maak ses veranderings vir die Junior Wêreldkampioenskap-kragmeting met Wallis
# En die tweepot-aftreestelsel ontbloot Suid-Afrikaners se bestedingsgewoontes
# President Cyril Ramaphosa sê beleggersvertroue in Suid-Afrika se digitale ekonomie neem toe namate die land se strewe erken word om ‘n toonaangewende digitale beleggingsbestemming te wees. Google het verlede week sy eerste Afrika-wolkberaad in Johannesburg aangebied, waar verskeie nuwe beleggings aangekondig is. Dit sluit ‘n digitale vernuwingsentrum in Soweto in ter waarde van drie-miljoen-rand. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief ondernemings soos Microsoft, Amazon en Mastercard belê ook in die land. Hy sê die digitale ekonomie speel ‘n belangrike rol in die bevordering van ekonomiese groei en werksgeleenthede.
# Die DA gaan nuwe inligting oorhandig om die klagte te versterk wat hy voorheen teen Ekurhuleni se gewese stadsbestuurder, Imogen Mashazi, ingedien het. News24 het onthul dat sy in ‘n huis van 60-miljoen-rand in die Waterfall-landgoed woon wat voorheen aan die korrupsie-beskuldigde sakeman, Edwin Sodi, behoort het. Woordvoerder Khathutshelo Rasilingwane sê volgens die artikel word die maandelikse huur op 200-duisend-rand geraam terwyl Mashazi se jaarlikse vergoeding sowat 3,1-miljoen-rand was:
# Die polisie is bekommerd oor die onwettige gebruik van blouligte. Misdaadsindikate, algemeen bekend as die “blouligbende”, gebruik dit om wetstoepassers na te boots en niksvermoedende motoriste te beroof, te kaap en te terroriseer. Twee verdagtes is die naweek in Centurion, Gauteng, in hegtenis geneem vir die onwettige gebruik van blouligte op ‘n privaat voertuig. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die wet is baie duidelik oor die wettige aanbring en gebruik van blouligte:
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, verwag môre ‘n strawwe toets teen ‘n sterk Walliese span in die deurslaggewende Junior Wêreldkampioenskaps-groepswedstryd in Tbilisi, Georgië. Foote het ses veranderinge aangebring, vier aan die agterlyn, insluitend Alzeadon Felix wat van die bank skuif om op heelagter te begin, en twee onder die voorspelers. Albei spanne is onoorwonne, terwyl Suid-Afrika boaan die punteleer is danksy ‘n ekstra bonuspunt. Die wenner sal eerste eindig in Groep A en ‘n plek in die halfeindronde verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-147-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is Nasionale Spaarmaand en Ou Mutual sê Suid-Afrika se tweepot-aftreestelsel onthul hoe finansiële spanning bestedingsgewoontes vorm. Die finansiële versekeraar sê byna twee jaar ná die bekendstelling het baie lede, insluitend hoë-inkomsteverdieners, spaargeld onttrek ondanks die swaar belastingboetes daaraan verbonde, en korttermynbehoeftes voor langtermyn-aftreebeplanning gestel. Die meeste onttrekkings is gebruik vir lewenskoste, skuld en noodgevalle. Die versekeraar sê die bevindings beklemtoon die behoefte aan persoonlike finansiële opvoeding en ondersteuning om Suid-Afrikaners te help om ‘n veerkragtige finansiële toekoms te bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….