Nuus 13:00
BULLETIN 4 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf mense word vervolg oor die dodelike Jagersfontein-slykdamramp in die Vrystaat
# Section27, TAC, en Sonke sluit aan by ‘n mylpaalsaak om sekswerk te wettig
# En krieket: Tony de Zorzi gaan die oorblywende eendagwedstryde teen Engeland misloop
# Die regering het bevestig dat strafregtelike stappe volgende week begin teen vyf verdagtes in verband met die Jagersfontein-slykdamramp in die Vrystaat in 2022. Drie mense is dood toe die damwal gebreek het. Die woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie, Wisane Mavasa, sê die vyf verdagtes, wat in diens is van ‘n ingenieursmaatskappy, word aangekla van moord, kwaadwillige saakbeskadiging en oortreding van die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid:
# Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het Section27, wat die Treatment Action Campaign verteenwoordig, en Sonke Gender Justice as vriende van die hof toegelaat in ‘n mylpaalsaak wat die kriminalisering van sekswerk in Suid-Afrika sal uitdaag. Die hoofverhoor sal van 18 tot 20 Mei volgende jaar in Kaapstad plaasvind. Khuselwa Dyantyi van Section27 sê die organisasies sal bewyse lewer oor hoe die wette toegang tot gesondheidsorg beperk, geweld vererger en diskriminasie teen sekswerkers aanvuur:
# Die Nasionale Tesourie sê sy slimmeterprogram ter waarde van twee-miljard-rand kan help om Eskom se stygende munisipale skuld van meer as 100-miljard-rand te verminder. Verlede jaar is meer as 67-duisend slimmeters in agt munisipaliteite aangebring, met ‘n verdere 77-duisend-780 wat vanjaar in nog elf munisipaliteite ingestel sal word. Die Tesourie beoog om teen die 2027/28-boekjaar ongeveer 250-duisend slimmeters aan te bring. Berigte dui daarop dat vroeë uitslae van die Bela-Bela- en die Sol Plaatje-munisipaliteit ‘n verbetering in inkomste-invordering toon.
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sê hy het ‘n gedetailleerde voorlegging ingedien teen die voorgestelde regulasies vir die uitvoer van lewende diere per see. Die Departement van Landbou het die regulasies in Julie vir openbare kommentaar gepubliseer. Nazareth Appalsamy van die DBV sê daar is geen verpligte embargo in die regulasies op uitvoere na die Midde-Ooste gedurende die warmste tydperke van die jaar nie wanneer diere die grootste risiko loop vir pynlike hittespanning:
# Krieket: Die Protea-kolwer Tony de Zorzi is weens ‘n besering uitgesluit van die res van die eendagreeks teen Engeland. Hy het die besering Dinsdag opgedoen terwyl hy veldwerk gedoen het in die eerste wedstryd op Headingley, wat Suid-Afrika gewen het. Geen plaasvervanger is aangewys nie. Matthew Breetzke het intussen van sy linker-dyspierbesering herstel en is beskikbaar vir vandag se tweede kragmeting op Lord’s.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-819-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-542-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….