Nuus 13:00
BULLETIN 3 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu gee privatisering en korporatiewe gierigheid die skuld vir ArcelorMittal se ineenstorting
# Krieket: Australië se kaptein behoort fiks te wees vir die begin van die reeks om die As
# En Solidariteit stel ‘n globale platform bekend om Afrikaners te verenig
# Die vakbondfederasie Saftu sê ArcelorMittal Suid-Afrika se sluiting van langstaalbedrywighede in Newcastle en Vereeniging, en die bedreigde toekoms van Vanderbijlpark, is ‘n nasionale ramp. Die federasie gee dekades van privatisering, korporatiewe gierigheid en regeringsmislukking die skuld vir die ineenstorting, en waarsku dat duisende werksgeleenthede en hele gemeenskappe in gevaar is. Asive Dyani van Saftu vra ‘n parlementêre ondersoek, die werkersgeleide nasionalisering van ArcelorMittal en dringende optrede om die staalbedryf en werksgeleenthede te beskerm:
Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê intussen die toenemende werksverliese weens maatskappye wat hul bedrywighede afskaal of die land heeltemal verlaat, is kommerwekkend. ArcellorMittal SA maak einde September toe met drie-duisend-500 werksgeleenthede wat verlore gaan. Ford in Suid-Afrika gaan 474 werkers aflê by sy aanlegte in Gqeberha en Pretoria. Die IRR se woordvoerder, Makone Maja, sê die reuse-beperkinge op sake-ondernemings in Suid-Afrika moet deeglik hersien word en aandag kry:
# Die Vryheidsfront Plus vra die DA om onmiddellik op te tree teen die Munisipaliteit Stellenbosch se bestuurder van Menslike Hulpbronne, Alexander Kannemeyer. Dit volg ná ‘n video op sosiale media waarin hy na bewering voorstel hulle maak die lewe vir wit werknemers so moeilik dat hulle bedank. Gert van Niekerk van die VF Plus sê Kannemeyer het ook gesê die gebruik om bevoegde en gekwalifiseerde mense aan te stel, lei daartoe dat wit kandidate, en veral wit mans, voorkeur kry:
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, behoort fiks te wees vir die begin van die reeks om die As teen Engeland ondanks ‘n rugprobleem. Die besering beteken hy gaan volgende maand se drie T20s in Nieu-Seeland misloop, asook ‘n eendag- en ‘n T20-tuisreeks teen Indië. Die eerste van die vyf toetse begin op 21 November in Perth. Cummins het 18 paaltjies geneem in die vorige reeks in Engeland in 2023, wat gelykop geëindig en Australië die As laat behou het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-166-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-539-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-67-sent per vat.
# Die Solidariteit-beweging het ‘n digitale kulturele tuiste, MyHartland, bekend gestel om Afrikaners wêreldwyd met hul taal, erfenis en gemeenskap te verenig. Dis geïnspireer deur suksesvolle diaspora-projekte oorsee en bied nuus, kulturele inhoud, hulpbronne vir kinders en geleenthede om projekte in Suid-Afrika te ondersteun. Volgens Marisa Engelbrecht van Solidariteit is die doel van MyHartland om Afrikanertradisies vir toekomstige geslagte te bewaar en Afrikaners wêreldwyd te verenig deur gedeelde identiteit, aktiewe betrokkenheid en kulturele trots:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….