Nuus 13:00
BULLETIN 2 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Poskantoor benodig 3,8-miljard-rand om sy sakeredding te voltooi
# Krieket: 541 plaaslike en oorsese spelers word opgeveil vir die SA20 se volgende seisoen
# En vanjaar se somer was die warmste op rekord in die Verenigde Koninkryk
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ‘n bykomende 3,8-miljard-rand versoek om sy sakereddingsplan af te handel. Meer as vier-duisend-300 werkers is reeds afgelê en 360 takke gesluit. Sakereddingspraktisyns waarsku dat die diens sonder die geld moontlik nie sy ommekeer sal kan voltooi wat fokus op die opknapping van sy Inligtingstegnologie-afdeling en digitale uitbreiding nie. Die praktisyns prys die skuldvermindering en verbeterde geldsake sedert sakeredding in 2023 begin het, maar sê goedkeuring vir die tweede gedeelte is van kritieke belang.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy beskou die afleggings by die Ford-motormaatskappy as ‘n aanval op die werkersklas. Die maatskappy beplan om minstens 470 werkers af te lê by sy aanlegte in Pretoria en die Oos-Kaap om aan te pas by veranderende eise in die mark. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die regering moet sy mag gebruik en nie toelaat dat maatskappye wat begunstigdes van sy aansporings is, werkers afdank nie:
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, erken dat bek-en-klouseer ‘n nasionale noodsituasie is, en sê die vordering met ‘n oplossing vir die uitbreking is bemoedigend. Daar is tans 274 uitbrekings in vyf provinsies, waarvan 180 in KwaZulu-Natal is. Die uitvoerende hoof van AMIE, Imameleng Mothebe, verwelkom Steenhuisen se verkryging van bykomende entstof en die skepping van ‘n taakspan met lede uit die bedryf en die regering oor die voorkoming van dieresiektes:
# Krieket: Drie-honderd Suid-Afrikaners en 241 buitelanders gaan volgende Dinsdag in Johannesburg deelneem aan die veiling vir SA20 se vierde seisoen. Die liga het ‘n ongekende meer as 800 speler-registrasies ontvang, waarna die lys verkort is volgens die ses spanne se hersiening. Onder die sterk plaaslike talent is die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, Quinton de Kock, Keshav Maharaj, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi en Dane Paterson. Die oorsese spelers sluit in die veteraan-Engelsman Jimmy Anderson, sy landgenoot Moeen Ali, die Australiër D’Arcy Short en die Nieu-Seelander Devon Conway.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-532-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-479-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Koninkryk het volgens die Weerkantoor vanjaar sy warmste somer ooit beleef en moes deur vier hittegolwe worstel. Brittanje het in Junie, Julie en Augustus ʼn gemiddelde temperatuur van 16,1-grade Celsius beleef wat meer is as 2018 se rekord van 15,76-grade Celsius. Mark McCarthy van die Weerkantoor sê hierdie rekord-somertemperature kan 70-keer meer waarskynlik toegeskryf word aan mensgemaakte klimaatsverandering. Hy sê die Verenigde Koninkryk kan in die nabye toekoms nog warmer somers verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….