Nuus 13:00
BULLETIN 1 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis dat die Weermag sy sekerheidsmaatreëls op basisse dringend hersien
# Sokker: Afrika se beheerliggaam onderhandel oor ‘n agtjaar-vennootskap van 17-miljard-rand met die privaat sektor
# En die Hollywood-aktrise Sheila Cannon is die grootste trekpleister op FAME Week Africa
# Die DA eis ‘n onmiddellike, dringende en volledige opknapping van alle instellings op alle basisse van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Dit volg ná die onlangse diefstal van ammunisie op die Lugmagbasis Bloemspruit in die Vrystaat. Die party sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en die SANW moet voor die Parlement verskyn en ‘n befondste herstelplan vir basiese sekerheid voorlê. Chris Hattingh van die DA sê volgehoue kabeldiefstal op militêre basisse het regstreekse sekerheids-gevolge:
# Die KwaZulu-Natalse polisie het nog ‘n geregsdienaar geskors oor bewerings dat politieke partyklere gedra word en vir die deelname aan politieke geleenthede. Die woordvoerder, Athlenda Mathe, het die skorsing bevestig en beklemtoon die polisie moet onpartydig bly in ooreenstemming met sy Gedragskode. Die lid se identiteit is nie bekend gemaak nie en die ondersoek sal na verwagting binne 60 dae afgehandel word. Dit volg te midde van soortgelyke skorsings in die provinsie, wat kommer aanwakker rakende politieke invloed in die Polisiediens.
# Mpumalanga se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, vra kerkleiers om sekerheidsmaatreëls te verskerp om hulleself en hul gemeentelede beter te beskerm. Ses gewapende mans het Vrydag ‘n kerk in SunCity A, KwaMhlanga, tydens ‘n naggebedsdiens bestorm en gemeentelede beroof. Twee kerke is ook in Bosbokrand beroof. Die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, sê die soort rooftogte by plekke van aanbidding kan ‘n weerspieëling wees van ‘n morele verval in die samelewing:
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker onderhandel oor ‘n agtjaar-vennootskap van 17-miljard-rand met die privaat sektor. Die president van CAF, Patrice Motsepe, het in Nairobi, Kenia, gesê die ooreenkoms is daarop gemik om befondsing vir Afrika-sokker in te bring, met die fokus op jeugkompetisies, akademies en talentontwikkeling vir seuns en meisies. Hy het gesê dit sal ook klubs ondersteun met logistiek vir deelname aan die Kampioeneliga en Konfederasiebeker, wat die vasteland se sokker-infrastruktuur en toekoms sal versterk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-616-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-477-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-2-sent per vat.
# En laastens, FAME Week Africa vind hierdie week in Kaapstad plaas, waar Afrika se kreatiewe bedrywe saamtrek om skouers te skuur, saam te werk en fees te vier. Die Hollywood-aktrise Sheila Cannon van Shonda Rhimes se Netflix-treffer The Residence, is die hoofspreker. Sy is ook die medestigter van Abundant Life University, waar sy aspirant-akteurs, kunstenaars en leiers help om hulself te laat geld. FAME Week Africa bied ook uitstallings, kortflieks, musiek en die jongste modes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….