Nuus 13:00
BULLETIN 30 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP herbevestig sy alliansie met die ANC ondanks sy besluit oor die 2026-verkiesing
# Die DA betreur die afsterwe van die UIM-president Neil de Beer
# En gholf: Chalupsky en Bartlett lei sportsterre in ‘n bewaringsveldtog
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê hulle beskou die ANC steeds as vennoot, ondanks planne om onafhanklik aan die 2026-plaaslike verkiesing deel te neem. Woordvoerder Mbulelo Mandlana het aan SABC News gesê die alliansie is gewortel in ‘n breër politieke program wat verder strek as verkiesings. Mandlana het erken dat die ANC-SAKP-taakspan nog in ‘n vroeë stadium is. Hy sê openbare kritiek op die ANC is nodig om verantwoordbaarheid en wedersydse respek te bevorder:
# Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het die Hooggeregshof se dringende interdik teen die Cape Amalgamated Taxi Association en die Cape Organisation for the Democratic Taxi Association verwelkom na dae van taxigeweld. Sileku sê dit dwing nakoming af en sal die geweld beëindig. Hy het aan Newzroom Afrika beklemtoon dat die verenigings binne drie dae ‘n plan moet voorlê oor hoe hulle die hof se vereistes sal toepas:
Intussen het die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, ‘n beroep op verenigings gedoen om op te hou om pendelaars en motoriste te boelie en het pendelaars se grondwetlike reg om hul vervoermiddel te kies, herbevestig. Diale-Tlabela sê om onbestendigheid aan te spreek, sal die Openbare Vervoer Krisiskomitee weekliks met belanghebbendes in die bedryf vergader en ‘n hulplyn vir die aanmelding van teistering opstel. Sy het bevestig die Gautengse Vervoerinspektoraat het die beslaglegging op onpadwaardige en onwettige voertuie verskerp om pendelaars se veiligheid te beskerm:
# Die DA betreur die afsterwe van Neil de Beer, president van die United Independent Movement. DA-leier John Steenhuisen het De Beer beskryf as ‘n kragtige stem vir verandering wat met sy vreeslose, kompromielose styl baie uitgedaag het terwyl hy talle ander verteenwoordig het. Hy sê De Beer sal onthou word vir sy rol in die vestiging van die Veelparty-Handves. Die DA betuig meegevoel en gebede aan sy familie en eer ‘n man van rustelose energie wat nou vir ewig rus.
# Pro-Palestynse aktiviste berei hulle voor om Sondag vanuit Spanje na Gaza te vaar in tientalle bote met hulp aanboord. Honderde mense van 44 lande, insluitend die Sweedse aktivis Greta Thunberg, sal na verwagting vanuit verskeie hawens na Gaza vertrek as deel van die grootste flottielje van die aard ooit. Hulle het regerings versoek om druk op Israel te plaas om die bote deur die vlootblokkade toe te laat. Israeliese vlootmagte het in Junie op ‘n Britse seiljag met Thunberg aan boord beslag gelê. Israel het die hulpskip afgemaak as ‘n propaganda-foefie ter ondersteuning van Hamas.
# En gholf: Die Suid-Afrikaanse sportlegendes Oscar Chalupsky en Shaun Bartlett sal elk ‘n span uitblinker sportsterre aanvoer wat gaan saamkom om mee te ding vir die tweede Bewaringsbeker by Pearl Valley. Dit word Donderdag 4 September gehou om fondse in te samel vir plaaslike bewaringsprojekte. Chalupsky sal Team Rhino aanvoer en Bartlett lei Team Pangolin, met sportsterre soos Akona Ndungane, Jacques Kallis, Mark Boucher, Graeme Smith, Gary Teichmann, Mark Fish, André Joubert, Robbie Fleck, Schalk Burger Jnr. en Schalk Brits as spanlede. Verskeie sakeleiers sluit ook by hulle aan waarna ‘n gala-dinee aangebied word, wat die vlagskipfondsinsameling vir die bewaringswerk van die Fisher-stigting is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….