Nuus 13:00
BULLETIN 29 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof staan ‘n interdik toe aan die Wes-Kaapse regering om taxigeweld te beëindig
# Politieke partye verklaar 40-miljoen-rand se skenkings tussen April en Junie
# En krieket: Hazlewood verwag ‘n reuse-kolfaanslag van Engeland in die reeks om die As
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n dringende interdik toegestaan aan die provinsiale Departement van Beweeglikheid om maatreëls in te stel teen die voortslepende minibustaxi-verwante geweld in Mfuleni, Somerset-Wes, Nomzamo en Lwandle in Kaapstad, wat reeds lewens geëis het. Premier Alan Winde sê die tussentydse interdik het ten doel om pendelaars, operateurs en lede van die publiek teen verdere skade te beskerm:
# Die Verkiesingskommissie se eerste kwartaallikse politieke befondsingsverslag vir 2025/26 toon dat partye tussen April en Junie 40,4-miljoen-rand se skenkings verklaar het, meer as dubbel van die vorige twee kwartale. Die DA het oorheers met 32,2-miljoen-rand, hoofsaaklik van Fynbos Kapitaal en Fynbos Ekwiteit. Die ANC het 7,6-miljoen-rand vanaf Chancellor House verklaar. My Vote Counts het intussen wysigings gekritiseer wat openbaarmakingsdrempels verhoog, en waarsku dit ondermyn deursigtigheid voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die kommissie het ook 34 nuwe politieke partye aangekondig en daar is nou altesaam 472.
# Die vakbondfederasie Saftu eis die kansellasie van Eskom se swaar skuldlas deur korporatiewe belastingverligting te herlei, onwettige finansiële vloeie te beperk en openbare besteding te verander. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê in plaas van betekenisvolle belegging in openbare infrastruktuur en ‘n regverdige energie-oorgang, gaan die regering voort om verbruikers te belas om Eskom se skuld van 400-miljard-rand te verlig. Sy sê Suid-Afrika het ‘n reuse-openbare beleggingsplan in hernubare energie-opwekking nodig:
# Women and Men Against Child Abuse het die gewese kleuterskoolonderwyseres, Amber-Lee Hughes, se skuldigbevinding verwelkom nadat sy erken het dat sy in 2023 haar kêrel se vierjarige dogtertjie verdrink het. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Hughes skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade en verkragting van Nada-Jane Challita. Sy word in Oktober gevonnis. Die organisasie eis lewenslange tronkstraf. Hy sê hierdie hartverskeurende geval beklemtoon die dringende behoefte om aandag te gee aan kinders wat blootgestel word aan stiefouers of ongeskikte lewensmaats in wie se sorg hulle gelaat word.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Josh Hazlewood verwag ‘n reuse-kolfaanslag van Engeland in die reeks om die As en sê die besoekers gaan waarskynlik die sterkste span bring wat hy ooit teëgekom het. Hy wil ‘n vierdagwedstryd in die plaaslike Sheffieldskild-kompetisie speel voor die vyf toetse nadat hy in vyf van die onlangse ses witbalwedstryde teen Suid-Afrika gespeel het. Hazlewood glo Engelse kolwers soos Joe Root en Harry Brook kan gevaarlik wees. Die eerste toets begin op 21 November in Perth.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-611-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-408-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….