Nuus 13:00
BULLETIN 5 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Busvereniging sê die regering moet die jeug in diens neem om te help met die repatriasieproses
# OPOD arresteer ‘n verdagte wat betrek word by die diefstal van edelgesteentes ter waarde van nagenoeg 15-miljoen-rand
# En rugby: Sweis de Bruin is tevrede met die oorwinning teen die VSA, maar nie met sy span se tweede helfte-vertoning nie
# Die African Unite Borders Bus Trucks Association het die regering veroordeel vir die gebruik van duur tenders vir die repatriasie van Malawiese en Zimbabwiese landsburgers. Die voorsitter van die vereniging, Mukhwathi Phumudzo, sê die regering moet die geld gebruik om werklose jongmense aan te stel om met die proses te help. Hy eis ‘n indringende ondersoek en georganiseerde koördinering om die vervoer van ongedokumenteerde migrante van KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap na die Musina-grenspos te hanteer:
# Die adjunkminister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Nomalungelo Gina, het beklemtoon dat Suid-Afrika ‘n breër en meer volhoubare wetenskap-betrokkenheidsprogram nodig het. Sy sê wêreldwyd het lande wat suksesvol tot hoë-inkomstestatus gevorder het, dit bereik deur wetenskap, navorsing en innovasie sentraal in regeringsbeleid, nywerheid en onderwys te plaas. Gina sê Suid-Afrika het wêreldklas-wetenskaplikes en wêreldwyd erkende navorsingsinstellings:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het ‘n verdagte gearresteer vir die diefstal van edelgesteentes ter waarde van net minder as 15-miljoen-rand uit ‘n privaat woning in Killarney, Johannesburg in 2023. Opod-woordvoerder Lizzy Suping sê die polisie was Vrydagaand op die spoor van twee verdagtes wat hulle nie kon vastrek nie. Sy sê die ses verdagtes sluit in beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie, Gauteng-verkeerspolisie, Johannesburg-metropolisie en ‘n sakeman wat hom as ‘n polisiebeamptes voorgedoen het. Hulle het die eiendom sonder lasbrief betree en die edelgesteentes gesteel:
# President Donald Trump het Saterdag die 250ste herdenking van die Verenigde State gevier met ‘n toespraak in verkiesingstyl op die National Mall in Washington. Nadat die toespraak vir twee ure deur ‘n storm vertraag is, het Trump breë beroepe op patriotisme gemeng met skerp aanvalle op vermeende ideologiese bedreigings tuis en in die buiteland. Presidente het voorheen gewoonlik optredes by 4 Julie-vieringe vermy, maar onder Trump het die lyn tussen amptelike herdenking en verkiesingspolitiek vervaag. Afgesien van ‘n soortgelyke toespraak in 2019, het geen Amerikaanse president sedert 1951 ‘n toespraak op 4 Julie op die Mall gelewer nie.
# Rugby: Swys de Bruin sê die Springbok-vroue se vertoning in die eerste-helfte teen die VSA Arende-vroue op Ellis Park was die beste 40 minute rugby wat hy gesien het sedert hy as hoofafrigter aangestel is. Hulle het die wedstryd 34-21 gewen, maar erken dat hul tweede helfte-poging nie aan dieselfde standaard voldoen het nie. Teen rustyd was die telling 29-0 in die Bokke se guns, maar in die die tweede helfte was besoekers se spel meer gebalanseerd en hulle het die Springbok-vroue se voorsprong kleiner gemaak na drie drieë. Die tweede toets teen die VSA word Saterdag op Loftus gespeel.
# En ten slotte: Die ANC in KwaZulu-Natal sê wyle Ntuthuko Mahlaba was ‘n grondliggende pilaar van die provinsiale leierskap, en sy lewe was ‘n meesterklas in organiese bestuur. Die 44-jarige is gisteroggend in Newcastle deur ‘n voertuig raakgery terwyl hy gedraf het. Die ANC sê ten tye van sy afsterwe het Mahlaba hom onderskei as lid van die Provinsiale Taakspan en die Voorsitter van Komitees in die Provinsiale Wetgewer, ‘n rol wat hy met absoluut gevestigde meesterskap en intellektuele diepte uitgevoer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….