Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê hy het die ondersteuning van studente na die opspraakwekkende verslag wat Nzimande betrek
# Student Forum 4 Service Delivery herhaal sy oproep aan die regering om N-S-FAS te skrap
# En, tennis: Richard Gasquet uit top 100 na 956 weke
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy het ondersteuning van studente en studenteverenigings ontvang na die bekendmaking van die skandaal by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. OUTA het onlangs opnames vrygestel wat onthul dat miljoene rand as gunslone betaal is aan die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, en die voorsitter van die skema se raad, Ernest Khoza. OUTA se hoof van ondersoeke, Rudie Heyneke, sê volgens die ondersoeke was die guns-lone in ruil vir tenders en beskerming vir die betrokke diensverskaffers.
Die Student Forum 4 Service Delivery doen intussen weer ‘n beroep op die regering om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te skrap. Die forum sê ʼn sagte benadering is nie meer aanvaarbaar nie. Sy woordvoerder, Nhongo Solo, sê hy het voorheen alle betrokke instellings en rolspelers, insluitend studente, gewaarsku teen die voortslepende wanbestuur van fondse en korrupsie in die skema:
# Wes-Kaapse owerhede doen ‘n beroep op leerder-vervoerders om padveiligheidsprotokolle te beoefen met die skole wat volgende week heropen. Die LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, sê bestuurders moet die veiligheid van leerders verseker terwyl hulle na, en van skole vervoer word. Hy het ook teenoor eNCA beklemtoon leerder-vervoerders moet verseker hulle is geregistreer as operateurs:
# Tennis: Die Franse veteraan Richard Gasquet gaan die mans se top 100-lys die eerste keer sedert April 2005 verlaat. Dit volg op sy nederlaag teen sy jong landgenoot, Arthur Fils (Vies), wat hom in skoon stelle verslaan het in die eerste ronde van die ASB Classic-toernooi in Nieu-Seeland. Die 37-jarige Gasquet se 956 weke onder die wêreld se 100 beste spelers is die meeste vir aktiewe spelers, maar Rafael Nadal van Spanje hou die algehele rekord van een-duisend-en-29 weke. Die 19-jarige Fils word beskou as Frankryk se volgende beste speler.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-533-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-30-sent per vat.
# Ten slotte: Die grootste manlike voorbeeld van die wêreld se giftigste spinnekop, die dodelike Sydney-tregterspinnekop, is noord van Sydney in Australië gevind. Hercules, soos hy genoem word, woon nou in die Australiese Reptielpark, waar hy sal deelneem aan die teengif-program. Spinnekopkenners van die park het hom gevind en vinnig besef dit is die grootste mannetjie wat al ooit in Australië ontdek is. Hy is 7,9-sentimeter lank. Sydney-tregterspinnekoppe het kragtige slagtande wat ‘n menslike vingernael kan deurboor en is normaalweg tussen een en vyf sentimeter lank.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….