Nuus 13:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa aanvaar die bedanking van die hoof van die Staatsveiligheidsagentskap
# ‘n Parlementêre komitee bekragtig die DA se plan om BTW op meer basiese kosprodukte af te skaf
# En, sokker: Neymar gaan lank op die kantlyn sit met ‘n knie-besering
# President Cyril Ramaphosa het die bedanking van die direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap, Thembisile Majola, aanvaar. Die bedanking, wat vanaf 30 November geld, is na bewering met wedersydse instemming. Majola, ’n voormalige adjunkminister van Energie, het op 1 Maart verlede jaar die rol van direkteur-generaal van die agentskap aanvaar. Ramaphosa het sy waardering uitgespreek vir Majola se bydrae tot die hervorming en herbou van die Staatsveiligheidsagentskap.
# Die DA verwelkom die parlementêre staande komitee op Finansies se bekragtiging om die zero-BTW-kosmandjie uit te brei met die doel om geldelike druk op huishoudings te versag. Die Nasionale Tesourie skimp oor moontlike belasting-maatreëls om inkomste-tekorte aan te vul, maar die party is hewig gekant teen bykomende belasting. Woordvoerder Dion George het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, te midde van ekonomiese uitdagings gevra om vinnig op te tree en noodsaaklike items van BTW vry te stel. Hy is ten gunste van omsigtige bestedingsbestuur as ‘n altenatief tot belasting-verhogings:
Speel klankgreep: ENG GeorgeOnVAT
# Die Stad Tshwane bied vandag en môre die eerste C40 Cities Politieke Leierskapmeesterklas oor Klimaatsveranderingsbestuur in Pretoria aan. Die geleentheid word ten volle befonds deur die C40 Cities Klimaat-leierskapsgroep. C40 Cities is ‘n netwerk van ongeveer 100 burgemeesters van vooraanstaande stede regdeur die wêreld wat werk om die omgewing en leefruimtes te beskerm deur klimaatsverandering doeltreffend te beveg. Die Meesterklas oor Klimaatsveranderingsbestuur is ‘n eerste van sy soort vir Tshwane en sal deur politieke leiers en afgevaardigdes van 12 Afrika-stede bygewoon word.
# Sokker: Brasilië se nasionale spandokter, Rodrigo Lasmar, het bevestig die voorspeler Neymar gaan lank op die kantlyn sit na ‘n onlangse knie-besering. Hy het twee weke gelede ‘n operasie ondergaan en gaan na verwagting ‘n hele ruk lank buite aksie wees weens ligament- en ander beserings in die linkerknie. Lasmar is tevrede met Neymar se vordering, maar beklemtoon die ingewikkelde aard van die besering, wat ‘n uitgebreide rehabilitasie-proses noop. Die Brasiliaanse beheerliggaam hoop Neymar sal kan terugkeer vir die 2024 Copa America in Junie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-865-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-971-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-14-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade, het fase drie van die opknapwerk aan die Healdtown High School naby Fort Beaufort bekend gemaak. Die doel an die projek is om die nalatenskap van die geskiedkundige skool as instelling van kulturele en opvoedkundige uitnemendheid te bewaar en te herstel. Onder die skool se beroemde oudstudente is politici, kerkleiers, akademici, uitgewers en wyle Nelson Mandela. Gade sê fase drie sal ʼn koshuis met 700 beddens insluit:
Speel klankgreep: ENG FundileonHealdton
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….