Nuus 13:00
BULLETIN 29 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevraagteken die hoof van die Weermag se amptelike besoek aan Rusland
# ‘n Leerdervervoerbestuurder kry lewenslank vir die verkragting van ‘n negejarige kind
# En krieket: Die Windies dra hul oorwinning oor Pakistan op aan die ontslape Garfield Sobers
# Die DA wil hê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, moet in die Parlement vrae beantwoord oor die hoof van die Weermag, Lawrence Mbatha, se besoek aan Rusland. Dié week se besoek is gemik op die verstewiging van bilaterale verdediging-samewerking tussen die twee lande se Weermagte. DA-woordvoerder Chris Hattingh sê ‘n amptelike besoek om militêre samewerking te verstewig, kom neer op die goedkeuring van Rusland se militêre veldtog in Oekraïne:
# Die Ahmed Kathrada-stigting verwelkom die regsingrypings teen die voormalige hoof van Transnet en Eskom, Brian Molefe, en PRASA se gewese uitvoerende hoof, Lucky Montana. ‘n Pensioenterugvordering van 9,9-miljoen-rand is teen Molefe afgedwing. Die Spesiale Ondersoekeenheid het twee van Montana se eiendomme bevries wat verbind word aan ‘n onreëlmatige PRASA-sekerheidstender van 5,6-miljard-rand. Anele Gcwabe van die stigting sê dit verteenwoordig belangrike mylpale:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die lewenslange vonnis verwelkom wat die Pretoriase Streekshof opgelê het aan ‘n leerdervervoerbestuurder van Mamelodi wat ‘n negejarige kind verkrag het. Woordvoerder Lumka Mahanjana sê die 41-jarige Given Mphahlele het die kind in Junie 2021 in sy huis verkrag en gedreig om haar ma te vermoor as sy haar vertel. Sy sê die kind het ‘n maand later daaroor gepraat en die saak is onmiddellik aangemeld:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap sê hy gaan oop tenderprosesse gebruik vir onderhoud aan paaie en raadgewende ingenieursdienste. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria die agentskap se besluit om padonderhoud-kontrakte aan ‘n paneel van 20 maatskappye toe te ken, ongrondwetlik en onregmatig verklaar het. Die tender was daarop gemik om ʼn paneel raadgewende ingenieurs aan te stel vir gereelde en spesiale instandhouding- en versterkingsprojekte. SANRAL se uittredende hoof, Reginald Demana, sê hulle het die tender-pakkette voorberei en ʼn pro-aktiewe interne versekeringsproses ingestel.
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het hul oorwinning oor Pakistan in die eerste toets in Trinidad opgedra aan die legendariese Garfield Sobers, wat vroeër die maand op 89 oorlede is. Die Windies het 311 aangeteken in hulle eerste beurt op die Brian Lara-stadion en Pakistan toe tot 282 beperk voor ‘n tweedebeurt-telling van 181. Jaden Seales het vyf paaltjies in Pakistan se tweede beurt geneem, toe hulle vir net 120 uitgeboul is om aan die gasheer ‘n oorwinning met 90-lopies te besorg. Die laaste toets begin Sondag in Port of Spain.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-372-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-33-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….