Nuus 13:00
BULLETIN 14 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vermoorde jong Johannesburgse seun se ma verskyn in die hof in verband met sy dood
# RISE Mzansi verwelkom die regterlike kommissie se ondersoek na die uitlatings KwaZulu-Natal se polisiekommissaris
# En die OVK verwerp die registrasie-aansoek van die Islamitiese Staat van Afrika as ‘n politieke party
# Die elfjarige Jayden-Lee Meek se ma, Tiffany Nicole Meek, het vandag in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, verskyn op aanklag van die moord op haar seun. Die Graad 6-leerder se gekneusde en gedeeltelik naakte liggaam is in Mei voor die gesin se huis in Fleurhof, Johannesburg, gevind, kort nadat sy ma hom as vermis aangemeld het. Landdros Ruby Mathyss het die saak tot Vrydag uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Die gemeenskap eis geregtigheid oor die jong seun se tragiese dood.
# RISE Mzansi verwelkom die stigting van ‘n regterlike kommissie van ondersoek in verband met uitlatings wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gemaak het. Hy beskuldig die minister van Polisie, Senzo Mchunu onder meer van politieke inmenging in polisie-ondersoeke. Die kommissie sal bewerings ondersoek rondom misdaadsindikate wat wetstoepassing, intelligensie en verwante instellings in die strafregstelsel binnedring. Makashule Gana van RISE Mzansi sê dit is uiters belangrik om Mchunu op spesiale verlof te plaas sodat daar geen ruimte vir inmenging is nie:
# Die Verkiesingskommissie het die registrasie van die Islamitiese Staat van Afrika-party verwerp. Die party se stigter, Farhad Hoomer, is voorheen van terrorisme in Suid-Afrika beskuldig. Die OVK het ISA se aansoek op drie gronde verwerp. Eerstens het die party nie die vereiste 300 handtekeninge van geregistreerde kiesers gekry nie. Tweedens het ISA die kennisgewing van sy aansoek in ‘n koerant gepubliseer wat slegs in klein dele van die eThekwini-munisipaliteit versprei word. Derdens het die OVK meer as 200 besware teen die stigting van die party ontvang.
# Die landbou-organisasie TLU SA is bekommerd oor die invoer van enige hoenderprodukte uit Brasilië na Suid-Afrika. Dit volg nadat die regering die verbod op invoer van pluimveeprodukte uit die Suid-Amerikaanse land gedeeltelik opgehef het. Die Departement van Landbou laat nou invoere toe uit alle Brasiliaanse provinsies, behalwe Rio Grande do Sul, waar voëlgriep voorgekom het. Bennie van Zyl van TLU SA sê streng biosekerheidmaatreëls moet ingestel word:
# Atletiek: Span Suid-Afrika is op pad om ‘n merkwaardige 130 medaljes in te oes op die elfde Afrika-unie Sportraad Streek 5-jeugspele in Windhoek en Swakopmund in Namibië. Die swemspan het 49 medaljes verower en die veldatlete 31, terwyl die netbalspan haar titel suksesvol verdedig het deur Malawi in ‘n strawwe eindstryd te klop. Suid-Afrika het ook die goue medalje in vroue-binnenshuise vlugbal teen Mosambiek gewen. Die wedstryde sluit môre af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-127-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….