Nuus 13:00
BULLETIN 6 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering veroordeel diegene wat buitelanders keer om gesondheidsorg te ontvang
# Minister Gwarube sê sy bou ‘n toekoms vir leerders
# En Elon Musk stig die Amerika-party
# Die regering het groepe en gemeenskappe veroordeel wat buitelandse burgers keer om toegang te verkry tot gesondheidsorgdienste by openbare fasiliteite. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê onwettige immigrasie sal nooit goedgekeur word nie. Hoewel die opregte frustrasies van baie burgers verstaan word, is dit onaanvaarbaar om die reg in eie hand te neem. Dit ondermyn die waardes wat in Suid-Afrika se demokratiese Grondwet vasgelê is:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar ministerie bou ‘n toekoms waar elke leerder die gehalte-onderwys kry wat hulle verdien. Gwarube sê nadat sy as minister van Basiese Onderwys aangestel is, het sy ‘n tender van 10-miljard-rand gestaak wat skoolvoeding in gevaar gestel het, 96-persent van uitgewysde puttoilette laat verwyder en basiese onderwys na nuwe hoogtes geneem. Die minister sê die departement sal voortgaan om Suid-Afrika se onderwysstelsel te transformeer:
# Die GOOD-party sê die onlangse oorstromings regoor Kaapstad het weereens sistemiese probleme in die stad se infrastruktuur-onderhoud blootgelê, veral die stormwater-dreineringsnetwerk. Siyabulela Mamkeli van GOOD sê terwyl swaar reënval alle gebiede raak, is die gevolge daarvan oneweredig ernstig in townships, informele nedersettings en die Kaapse Vlakte, waar infrastruktuur en behuising swakker is:
# Duisende mense het vandag in Dharamshala in Indië bymekaargekom om die 90ste verjaardag van die Dalai Lama te vier. Die byeenkoms was die hoogtepunt van ‘n dae lange viering in die stadjie wat as die tuiste vir die geestelike leier en Nobelvredespryswenner dien sedert hy in 1959 tydens ‘n mislukte opstand teen die Chinese kommunistiese bewind uit Tibet gevlug het. In ‘n videoboodskap wat Woensdag vir godsdienstige leiers beskikbaar gestel is, sê die Dalai Lama daar sal ‘n opvolger na sy dood wees en sy kantoor het die “alleengesag” om sy toekomstige reïnkarnasie te erken.
# Tennis: Novak Djokovic het sy 100ste oorwinning by Wimbledon behaal toe hy sy Serwiese Davisbeker-spanmaat Miomir Kecmanovic oortuigend geklop het. Hy is steeds op koers vir ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel. Djokovic se 100 oorwinnings plaas hom op die hakke van Roger Federer met 105 oorwinnings en die negemalige wenner Martina Navratilova se rekord van 120. Djokovic speel teen die Australiese 11de gekeurde Alex de Minaur in die vierde ronde. Hy sal waarskynlik albei die wêreld se twee voorste spelers, Jannik Sinner en die verdedigende kampioen Carlos Alcaraz, moet klop as hy die trofee op 13 Julie wil lig.
# En ten slotte: Die wêreld se rykste man het ‘n nuwe politieke party, die Amerika-party, gestig. Elon Musk het dit aangekondig ‘n dag nadat president Donald Trump ‘n belastingverlagings- en bestedingswetsontwerp onderteken het, waarteen Musk hewig gekant is. Die Tesla-baas het Trump se verkiesingsveldtog met meer as ‘n kwart-miljard-dollar gesteun. Hy het belangrike dele van Trump se wetgewende agenda gekritiseer nadat hy sy leidende rol in die Departement van Regeringsdoeltreffendheid verlaat het. Musk het die wetsontwerp as ‘n walglike gruwel bestempel, met Trump wat gedreig het om hom te deporteer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….