Nuus 13:00
BULLETIN 2 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Mbenenge se aanklaer mag hom nie onder kruisverhoor neem nie
# Minister Creecy sê haar departement versnel projekte vir die betroubare verskaffing van stralerbrandstof
# En die Dalai Lama onderneem om nié die laaste leier van Tibetaanse Boeddhisme te wees nie
# Die Regterlike Gedragstribunaal het beslis dat die regspan van die sekretaresse wat die Oos-Kaapse regter-president, Selby Mbenenge, beskuldig dat hy haar oorreed het om aan seksueel-eksplisiete boodskappe deel te neem, Andiswa Mengo, nie hom of sy getuies onder kruisverhoor mag neem nie. Die tribunaal se voorsitter, oudregter Bernard Ngoepe, het aangevoer dat sulke kruis-ondervraging nie toegelaat word ingevolge die Wet op die Regterlike Dienskommissie en tribunaalreëls nie. Hy sê Mengo se span mag egter wel die getuienisleier raadpleeg tydens kruisondervraging:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het 21,7-miljard-rand vir infrastruktuurontwikkeling bewillig. Sy sê dit sal geriewe vir passasiersveiligheid en -gerief oor die mediumtermyn verbeter en ‘n nuwe vragterminaal sal ook gebou word op die OR Tambo-internasionale lughawe in Kemptonpark, Ekurhuleni. Die minister sê haar departement versnel projekte vir betroubare verskaffing van stralerbrandstof vir alle lugdienste op al Suid-Afrika se lughawens:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het die sperdatum vir voorleggings oor die besprekingsdokument vir die hersiening van die Witskrif vir Plaaslike Regering van 1998 tot die 31ste van die maand uitgestel. Die besluit volg na groter belangstelling van rolspelers landwyd en talle versoeke vir ekstra tyd om voor te berei en voorstelle in te dien. Hlabisa sê die ministerie erken die belangrikheid van inklusiewe deelname om ‘n deelnemende en doeltreffende stelsel vir plaaslike regering te skep.
# Die Dalai Lama het aangekondig dat iemand hom ná sy dood sal opvolg om die eeue-oue tradisie voort te sit. Dit het ‘n brandpunt geword in die stryd met China se Kommunistiese Party oor die toekoms van Tibet. Die Nobelpryswenner woon in Indië sedert hy in 1959 uit Tibet gevlug het ná ‘n mislukte opstand teen China se kommunistiese bewind. Die aankondiging enkele dae voor sy 90ste verjaardag baan die weg vir ‘n fel stryd tussen Tibetaanse leiers in ballingskap en China se ateïstiese Kommunistiese Party oor sy opvolging.
# Krieket: Die afrigter van die Engelse Leeus, Andrew Flintoff, sê hy het geen behoefte om Brendon McCullum op te volg as hoofbreier van die nasionale span nie. McCullum se kontrak verstryk na 2027 se Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika en daar word bespiegel Flintoff kan oorneem as die Nieu-Seelander besluit om te vertrek. Die gewese kaptein van Engeland het tydens sy loopbaan meer as sewe-duisend lopies aangeteken en 400 paaltjies geneem in alle formate. Flintoff sê hy bewonder McCullum, wat hy beskou as die land se beste afrigter ooit
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-726-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….