Nuus 13:00
BULLETIN 27 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Verdediging verseker die Weermag se vermoë ondanks begrotingsbeperkings
# Die DA eis antwoorde oor Krygkor se verdedigingsplanne en Denel se vermiste verslae
# En krieket: Die stophorlosie-reël word ook in toetse ingestel om stadige boulwerk teen te werk
# Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, herbevestig die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gereed om die land se soewereiniteit te verdedig ondanks fiskale beperkings en verouderende toerusting. Die departement werk nou saam met die Tesourie en die Presidensie om die Lugmag se vermoë te verbeter, insluitend die voortgesette onderhouding van vliegtuie en verkrygingspogings. Mothshekga erken daar is uitdagings, maar sê die Weermag is nie heeltemal wanfunksioneel nie. Sy sê daar word hard gewerk om kop bo water te hou, in die lug te bly en uitdagings te trotseer.
Die DA is intussen ontsteld dat Krygkor en Denel voortgaan met groot verdedigingsplanne terwyl die wet, begroting en basiese toerekenbaarheid ignoreer word. Krygkor se jongste plan berus swaar op ‘n strategie wat president Cyril Ramaphosa inspireer het om meer aan verdediging te bestee met ‘n teiken van 1,5-persent van die bruto binnelandse produk. Chris Hattingh van die DA sê Denel het oor die afgelope paar jaar meer as tien-miljard-rand aan geldelike hulp ontvang sonder om verslag te doen:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake is onder skoot nadat hy ‘n hofbevel veronagsaam het om meer as nege-miljoen-rand aan die Insika-stigting te betaal. Die stigting het die hof genader om die departement te dwing om te betaal vir dienste wat gelewer is, en dis toegestaan. Die departement het geappelleer, maar die saak verloor. Die stigting se uitvoerende hoof, Ziphozethu Matheniwa, sê hulle gaan die hof weer nader en ook ʼn klagte by die Parlement en die Openbare Beskermer indien.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het ‘n wydverspreide veldtog met waninligting oor Covid-19-entstowwe veroordeel. Die veldtog beweer entstowwe is skadelik en betrek verkeerdelik wetenskaplikes, soos professor Salim Abdool Karim. Motsoaledi waarsku sekere mense bevorder vals hartmedikasie om geld te maak en stel lewens in gevaar. Die woordvoerder, Foster Mohale, vra die publiek om saam te staan teen waninligting ten einde openbare gesondheid te beskerm:
# Krieket: ‘n Stophorlosie-reël word in toetskrieket bekend gestel weens die jarelange probleem van stadige boulwerk. Die reël, wat reeds die afgelope jaar in witbalkrieket van krag is, dwing die veldwerkspan om met ‘n boulbeurt te begin binne ‘n minuut nadat die vorige een geëindig het. Die Internasionale Krieketraad sê ‘n elektroniese horlosie langs die veld sal van nul na 60 sekondes aftik. Vyf straflopies sal na ‘n tweede waarskuwing opgelê word, terwyl waarskuwings ná die voltooiing van 80 boulbeurte teruggestel sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-97-sent teen die euro en 24-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-926-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-285-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….