Nuus 13:00
BULLETIN 25 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gaan nie die mosie van wantroue teen Johannesburg se burgemeester verdedig nie
# Transnet is oorweldig deur belangstelling vanaf die privaat sektor
# En Iran stem om samewerking met die Verenigde Nasies se kernwaghond op te skort
# ActionSA sê hy gaan buite stemming bly tydens vandag se mosie van wantroue teen Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, weens sy versuim om basiese dienste dwarsdeur die stad te lewer. Die party sê hy kan nie Morero se leierskap verdedig, wat hy as wanfunksioneel en traag beskryf nie. Michael Beaumont van ActionSA het ook bekend gemaak dat Al Jama-ah die party se steun probeer werf het om die voormalige burgemeester, Kabelo Gwamanda, weer verkies te kry, ondanks aantygings van bedrog teen hom:
# Transnet word volgens berigte oorweldig deur die privaat sektor se belangstelling in die spoornetwerk. Die minister van Openbare Ondernemings, Barbara Creecy, sê daar was ‘n sterk aanvraag vanaf privaat ondernemings wat gretig is om te belê en deel te neem aan spoorbedrywighede om die sukkelende sektor te laat herleef. Transnet se spoorinfrastruktuur worstel met groot uitdagings, insluitend ondoeltreffendhid en onderbelegging. Die regering hoop hierdie privaat betrokkenheid sal die vragbeweging verbeter en ekonomiese groei in belangrike handelsdeurgange ondersteun.
# Die Suid-Afrikaanse Vloot se verdedigingsvermoë verkeer glo in ‘n krisis met sleutel-fregatte en -duikbote wat buite werking is en kritieke handelsroetes blootstel aan moontlike gevare. ‘n Ondersoek van News24 het onthul dat die Vloot se vaartuie wat skeepsroetes en gebiedswaters moet beskerm, nie in bedryf is nie weens onderhoudsvertragings en begrotingstekorte. Kenners waarsku dit verswak Suid-Afrika se vermoë om sy kuslyn te bewaak, wat belangrike hawens en maritieme handelsroetes kwesbaar maak. Die Vloot se agteruitgang wek kommer oor nasionale veiligheid en die ekonomie.
# Die Israelse Weermag sê dis nog te vroeg om die skade aan kernterreine in Iran te bepaal nadat ‘n wapenstilstand die konflik van 12 dae beëindig het. Militêre woordvoerder Effie Defrin sê hy glo Iran se kernprogram is ‘n beduidende hou toegedien en sal etlike jare neem om te herstel. Iranse wetgewers het intussen gestem om samewerking met die Verenigde Nasies se kernwaghond op te skort. Die speaker in die Parlement, Mohammad Bagher Ghalibaf, sê die Internasionale Atoomenergie-agentskap het sy internasionale geloofwaardigheid opgeveil.
# Krieket: Indië se afrigter, Gautam Gambhir, sê daar is ‘n paar gebiede waarop hulle moet verbeter voor die tweede toets teen Engeland volgende Woensdag op Edgbaston begin. Engeland se aanvangskolwer, Ben Duckett, het 149 in die tweede beurt aangeteken en hulle het die teiken van 371 bereik om die eerste toets op Headingley te wen. Indië het die eerste span geword wat ‘n toets verloor waarin vyf kolwers honderdtalle aangeteken het. Gambhir is teleurgesteld oor die manier waarop hulle verloor het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-945-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….