Nuus 13:00
BULLETIN 20 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oos-Kaap gebruik hommeltuie in soektog na vermiste vloedslagoffers
# Die Reserwebank waarsku geopolitieke spanning bedreig finansiële bestendigheid
# En oliepryse tuimel na Trump sê hy gaan binne twee weke besluit oor Amerika se betrokkenheid in Iran
# Die Oos-Kaapse regering het die soektog na vermiste vloedslagoffers verskerp en maak nou gebruik van hommeltuigtegnologie wat menslike oorskot kan opspoor. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Xolile Williams, het aan Newzroom Afrika gesê die doel is om afsluiting te bied aan gesinne wat steeds na hul geliefdes soek. Hy sê vermiste familielede word steeds aangemeld en die provinsie hoop die hommeltuigtegnologie sal antwoorde bied:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê sy departement funksioneer in ‘n beperkte fiskale omgewing, maar sit nie stil nie. Hy sê hulle het ‘n hersiening van departementele besteding van stapel gestuur en streng kostebesparings-maatreëls ingestel. George sê hulle ondersoek ondersteuning van internasionale skenkers vir wetstoepassing en teenstroping, ontwikkel vernuwende finansieringsmeganismes vir groen projekte en werk saam met die Tesourie aan volhoubare begrotingsmodelle:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank waarsku toenemende geopolitieke spanning en wêreldwye beleidsonsekerheid hou groot gevaar in vir die land se finansiële sektor. Die bank sê in sy Finansiële Bestendigheidsverslag handelsgeskille en konflik soos dié tussen Israel en Iran plaas druk op die olieprys en maak beleggers versigtig. Volgens die verslag verhoog dit die risiko van kapitale uitvloei en hoër leningskoste vir die staat. Die sentrale bank het ook sy eerste klimaatsrisiko-toets voltooi en bevind groot banke is matig voorberei.
Oliepryse het intussen getuimel en aandelehandelaars sukkel om ‘n wisselvallige week positief af te sluit na die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging dat hy oor die volgende twee weke sal besluit oor deelname aan Israel se aanvalle op Iran. Daar is bespiegel dat hy dalk by Israel sou aansluit, maar sy opmerkings dui nou op moontlike diplomatieke ingryping. Te midde van toenemende spanning oor ‘n toename in vyandelikhede, kan Trump se opmerkings moontlik daartoe lei dat ‘n volskaalse oorlog tussen die twee Midde-Oosterse vyande verhoed kan word.
# Motorsport: Williams se Formule Een-spanhoof, James Vowles, het ‘n nuwe langtermynkontrak gesluit. Die 45-jarige Brit het in 2023 by Williams aangesluit na hy voorheen Mercedes se hoof van wedrenstrategie was. Vowles is verantwoordelik vir die span se vinnige opgang. Williams is nou vyfde in die vervaardigerskampioenskap met 55 punte na tien wedrenne – meer punte as in die vorige drie seisoene saam. Voorsitter Matthew Savage sê Vowles se ondervinding en strategiese leierskap help om die span weer een van die bestes te maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-882-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….