Nuus 13:00
BULLETIN 18 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra wêreldleiers om voorrang te gee aan befondsing vir nagevolge van klimaatsverandering
# Die oorskot van oudpresident Edgar Lungu word na Zambië gerepatrieer
# En atletiek: Usain Bolt word amptelik benoem as ‘n Guinness-wêreldrekord-ikoon
# President Cyril Ramaphosa het wêreldleiers na afloop van sy G7-besoek in Kanada gevra om befondsing vir die uitwerking van klimaatsverandering, soos vloede, voorop te stel. Hy het die land se Billike Energie-oordrag en gereedheid om die komende G20-beraad aan te bied, beklemtoon. Ramaphosa het die behoefte aan finansiële steun uitgewys om die nagevolge van klimaatsverwante rampe aan te pak, veral in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap:
# Build One South Africa sê die regering van nasionale eenheid het gedurende sy eerste jaar sy ware kleure gewys. Hy sê dit is nie ‘n eenheidsprojek vir die mense nie, maar ‘n magsdeling-verdrag tussen die politieke elite. BOSA het ‘n oorsig gedoen van die regering se eerste jaar aan bewind, wat die vordering met die ekonomie, basiese onderwys, misdaad en sekerheid, en doeltreffende regering insluit. Die party se woordvoerder, Roger Solomons, sê volgens hulle beoordeling moet die regering ‘n punt van 40-persent gekry:
# Die oorskot van die voormalige Zambiese president, Edgar Chagwa Lungu, word vandag gerepatrieer nadat hy vroeër die maand in Pretoria dood is. ‘n Familievete met president Hakainde Hichilema het die proses vertraag. Lungu het glo opdrag gegee dat Hichilema nie naby sy liggaam mag kom nie. Hulle was baie lank politieke teenstanders. Zambië se minister van die Kabinet, Patrick Kangwa, het bevestig dat Lungu se liggaam op die Kenneth Kaunda Internasionale Lughawe sal aanland. Dit sal daarna in sy privaat woning in staatsie lê voor openbare besigtiging van môre tot Saterdag in die Mulungushi Internasionale Konferensiesentrum.
# Atletiek: Die wêreld se vinnigste man, Usain Bolt, is amptelik benoem as ‘n Guinness-wêreldrekord-ikoon. Die voormalige Jamaikaanse naelloper is vereer vir sy prestasie in atletiek en omdat hy mense wêreldwyd inspireer. Sy 9,58-sekondes oor 100 meter is die vinnigste ter wêreld terwyl sy tyd van 9,63-sekondes op 2012 se Spele in Londen steeds ʼn Olimpiese rekord is. Bolt sê hy is geëerd om die toekenning te ontvang:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-63-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-383-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Mylpaalsaak om olifante uit die Johannesburgse Dieretuin te bevry, het internasionale ondersteuning gekry. Die saak is gegrond op die veronderstelling dat die diere se aanhouding die Grondwet oortree, in besonder wat omgewingsregte betref. Regslui aan die Harvard-regsfakulteit in Amerika het as vriende van die hof by die saak aangesluit. Hulle stem saam dat die inperking van die drie olifante, Lammie, Mopane en Ramadiba, hulle geestelike, emosionele en fisiese welstand aantas. Die dieretuin sê die diere ontvang voldoende sorg en aandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….