Nuus 13:00
BULLETIN 12 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube is bekommerd oor die vermiste leerders na Oos-Kaapse vloedtragedie
# ActionSA sê Gauteng ondervind ‘n infrastruktuur-nagmerrie
# En rugby: Jake White is vol lof vir Leinster voor Saterdag se VRK-eindstryd
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het haar diepe kommer uitgespreek omdat vier leerders steeds vermis word nadat vloedwater ‘n skoolbus in die Dikolini-rivier in die Oos-Kaap meegesleur het. Ses leerders van die Senior Sekondêre Skool Jumba is dood verklaar. Gwarube het in die provinsie gesê die oorstromings het 74 skole beskadig. Sy noem die verwoesting hartverskeurend vir gesinne en gemeenskappe wat geraak is:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal verkry om onroerende eiendom in Limpopo te bevries wat verbind word met sy ondersoek na die Nasionale Loterykommissie. Die bevriesing van Gedeelte 15 van die plaas Zandrivierspoort word verbind met die wanbesteding van geld wat bedoel was vir die bou van ouetehuise. Die SOE sê hy fokus op drie organisasies sonder winsbejag wat saam meer as 66-miljoen-rand ontvang het onder valse voorwendsels. Daar is bevind die ontbinde Matieni-gemeenskapsentrum is bedrieglik laat herleef om vir befondsing aansoek te doen.
# ActionSA in Gauteng sê die administrasie se verwaarlosing en wanbestuur het ‘n blywende uitwerking op die provinsie se infrastruktuur gelaat. Die party is geskok dat daar niks te sien is van die 35,3-miljard-rand wat die afgelope drie boekjare vir infrastruktuur toegeken is nie. ActionSA se woordvoerder, Emma More, sê die Montrose-megaprojek is gestaak nadat 467-miljoen-rand reeds bestee is, terwyl herstelwerk aan die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal steeds nie afgehandel is nie:
# Rugby: Die Bulle se hoofafrigter, Jake White, is vol lof vir Leinster voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd in Dublin. Hy sê die Ierse span is strate voor enige ander span. Nie een van die twee kon nog die kompetisie wen nie, en die Bulle is die derde keer in ‘n eindstryd na vier pogings. White sê Leinster se model is bewonderenswaardig:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-590-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Switserse man het die Guinness-wêreldrekord verbeter deur langer as twee uur onder sneeu begrawe te bly. Die mededingende kragopteller Elias Meyer het die uitdaging aanvaar om die langste tyd met sy hele liggaam in kontak met sneeu deur te bring met net ʼn swembroek aan. Die Pool Valerjan Romanvoski het in 2022 een-uur-45-minute-en twee-sekondes uitgehou. Meyer se rekordtyd is twee-uur-sewe-sekondes. Hy sê die gewig van die sneeu het hom meer gepla as die koue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….