Nuus 13:00
BULLETIN 11 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggame van drie leerders word herwin na hulle skoolbus in die Oos-Kaap meegesleur is
# ‘n Konvooi met honderde pro-Palestynse aktiviste wil deur Israel se blokkade breek
# En krieket: Australië kolf eerste in die toets-eindstryd teen Suid-Afrika
# Die liggame van drie leerders is gevind nadat hulle skoolbus deur vloedwater meegesleur is in die Dikolini-gebied naby Mthatha in die Oos-Kaap. Inwoners het naby die oewer van die rivier afgekom op die liggame van ‘n meisie en twee seuns. Daar was 13 leerders, nog twee passassiers en die bestuurder in die voertuig. Gister is drie leerders gered waar hulle aan ‘n boom vasgeklou het.
President Cyril Ramaphosa sê intussen die verwoesting wat natuurkragte bring, vereis dat almal saamwerk om verligting te bring aan gesinne en gemeenskappe wat dit die nodigste het. Dit volg op die oorstromings in die Oos-Kaap waar nege mense verdrink het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê nasionale, provinsiale en munisipale regerings, asook die Nasionale Rampbestuursentrum, skenk die nodige aandag aan elke krisis wat opduik. Hy waarsku ook mense om uiters versigtig te wees op paaie:
# Die polisie het ‘n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik vir Lucky Boitumelo Molefe wat deur die polisie gesoek word in verband met die moord op die 30-jarige ingenieur, Armand Swart. ‘n Polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi, sê twee aanvallers het die werknemer van Q Tech Engineering Company in Vereeniging, Gauteng, in April verlede jaar voor die onderneming doodgeskiet. Hy sê vier verdagtes, insluitend een wat vermoedelik die baasbrein in Swart se moord was, is in hegtenis geneem:
# ‘n Konvooi met honderde pro-Palestynse aktiviste het Tunisië se grens met Libië oorgesteek om ooswaarts te beweeg totdat hulle deur Israel se versperring van die Palestynse gebied kan breek. Dit volg nadat Israel ‘n skip met 12 mense, insluitend die aktivis Greta Thunberg en die Frans-Palestynse lid van die Europese Parlement, Rima Hassan, onderskep het toe hulle probeer het om die blokkade te omseil. Die Soumoud-konvooi, wat “standvastigheid” in Arabies beteken, het Maandagoggend vanaf Tunis vertrek en sluit 14 busse en ongeveer 100 ander voertuie in.
# Krieket: Australië kolf eerste nadat die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, die loot gewen het in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap wat op Lord’s in Londen gespeel word. Bavuma sê die kolfoppervlak lyk goed, maar weerstoestande bepaal dat hulle eerste boul in die ontmoeting wat hy verwag ‘n skouspel sal wees. Australië, met ‘n nuwe toporde bestaande uit Usman Khawaja, Marnus Labuschagne en Cameron Green, het nie minder nie as agt boulers in die span nie en kan ook vir Steve Smith inspan as aflos-bouler indien nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-539-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….