Nuus 13:00
BULLETIN 8 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra optrede nadat die Parlement plaasaanvalle erken
# Die UDM-vroue is ontsteld oor Oscar Pistorius se deelname aan die Ysterman-kompetisie
# En padwedlope: Tete Dijana en Gerda Steyn wen die 89ste Comrades van Pietermaritzburg na Durban
# Die DA sê die regering moet ‘n gespesialiseerde Landelike Veiligheidseenheid met opgeleide en toegeruste lede wat fokus op landelike misdaad, plaasaanvalle en veediefstal in die polisie stig. DA-lid Ian Cameron sê vir die eerste keer het twee sleutelportefeuljekomitees, Landbou en Polisie, die werklikheid van en styging in plaasaanvalle en die behoefte aan dringende ingryping erken:
# Die UDM Vroue-organisasie sê hulle is geskok om te hoor dat die veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius op 1 Mei aan die Isuzu Ysterman 70.3-driekamp in Durban deelgeneem het. Die party sê dit is sy eerste openbare sportbyeenkoms sedert hy in Januarie verlede jaar op parool vrygelaat is. Thandi Nontenja van die UDM sê sy prokureur, Conrad Dormehl, het die atleet se betrokkenheid as deel van sy rehabilitasie bevestig, en Pistorius se paroolbeampte het na bewering sy reis van Pretoria na Durban goedgekeur:
# AfriForum sê veediefstal het Suid-Afrika se landbousektor alreeds meer as 200-miljoen-rand van Januarie tot Maart vanjaar gekos. Terwyl die polisie ‘n effense daling in veediefstalsake aangemeld het, waarsku Hennie Bekker van AfriForum dat die finansiële skade veel erger is, aangesien meer as 43-duisend diere in die laaste kwartaal alleen gesteel is. Bekker het ook bevestig dat die Oos-Kaap steeds die hardste getref word, wat kommer wek oor die polisie se gebrek aan optrede en onderbemande veediefstal-eenhede. Hy sê dat gratis opleiding om veediefstal te bestry vir 18 Junie geskeduleer is.
# Die wêreld se hoogste spoorwegbrug oor ‘n vallei is in Kasjmir deur die Indiese premier Narenda Modi geopen. Dit was Modi se eerste besoek aan Kasjmir wat deur Indië bestuur word, sedert ‘n kortstondige dodelike konflik tussen Indië en Pakistan in April. Die Chenab-boogbrug is 359 meter bo die rivier en 29 meter hoër as die bopunt van die Eiffeltoring. Die brug is deel van die eerste spoorwegverbinding tussen Kasjmir en die res van Indië. Modi se regering het miljarde belê in sy visie om die land teen 2047 in ‘n ontwikkelde nasie te omskep.
# Rugby: Die Springbok-vrouespan het aan die verwagtinge van die afrigtingspan voldoen met die begin van hul verdediging van die Rugby Afrika-vrouebeker nadat hulle hope drieë gedruk het. Suid-Afrika het Uganda gister met 62-7 by Stade Makis in Antananarivo, uitgestof. Die hulpafrigter, Franzel September, sê dit was ‘n goeie begin, en verblydend om te sien hoe die span tien drieë druk. Hy sê daar is nog werk om te doen, maar die span se verdediging en besit was kernareas van sukses. Die 23 spelers vir die tweede ronde-botsing teen Kenia word môre aangekondig.
# En padwedlope: Die Suid-Afrikaanse ultramaratonatleet Tete Dijana het sy derde Comrades-marathon gewen. Dijana was eerste oor die wenstreep in die 89ste Comrades van Pietermaritzburg na Durban, met verlede jaar se wenner, die Nederlander Piet Wiersma, tweede. Die 37-jarige Dijana kom van Mahikeng in die Noordwes en het sy werk as sekuriteitswag by die Noordwes-Universiteit bedank en hardloop vir die Nedbank-marathonklub. In die vrouewedloop het die Suid-Afrikaanse sensasie Gerda Steyn haar vierde Comrades gewen. Die Russiese atleet Alexandra Morozova was tweede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….