Nuus 13:00
BULLETIN 7 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Black Business Council bied steeds belangrike steun vir transformasie
# Gemeenskappe word aangespoor om veilige verwarmingstoestelle te gebruik
# En padwedlope: Alles is gereed vir môre se 98ste Comrades
# President Cyril Ramaphosa sê die Black Business Council bly een van grootse ondersteuners van transformasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hy het gisteraand die jaarlikse gala- en toekenningsdinee van die raad in Kempton Park, Ekurhuleni, toegespreek. Ramaphosa sê die struktuur van die ekonomie word geleidelik getransformeer deur vennootskappe wat die regering met die sakewêreld gesmee het om jongmense geleenthede vir ervaring in die werksplek te bied.
Ramaphosa het by dieselfde geleentheid gesê sedert die koms van demokrasie het die regering ‘n omvattende en kragtige wetgewende raamwerk gebou om die transformasie van die ekonomie te bevorder. Hy sê die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Gelyke Indiensneming is noodsaaklike dele van dié wetgewende raamwerk:
# Die polisie in Mpumalanga is op soek na drie verdagtes nadat ‘n polisiebeampte gisteraand in Pienaar doodgeskiet is. Die polisiewoordvoerder, Jabu Ndubane, sê hulle is omstreeks nege-uur oor die voorval ingelig. Met hul aankoms het hulle die 34-jarige konstabel Donald Mathebula in sy privaat voertuig gevind. Hy is die hospitaal toe gehaas en met sy aankoms dood verklaar:
# Die Stad Tshwane se Nooddienste doen ‘n beroep op gemeenskappe om bedag te wees op ‘n risiko van erge donderstorms met moontlike skadelike hael en wind. Die woordvoerder Lindsay Mnguni sê met die dalende temperature, maak baie inwoners staat op verhittingsmetodes soos gasverwarmers, konka’s, elektriese- en paraffienverwarmers, en oop vure om warm te bly:
# Die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kiesewetter, doen ‘n beroep op China om in plaaslike vervaardiging te belê. Kiesewetter het in Pretoria op ‘n vergadering met die Chinese ambassadeur, Wu Peng gesê hy wil hê Suid-Afrika moet nie bloot as ‘n mark vir Chinese produkte beskou word nie, maar ook as ‘n bestemming vir die montering en vervaardiging van goedere deur Chinese beleggers. Suid-Afrika het tot dusver vanjaar 60-miljard-rand meer Chinese goedere ingevoer as uitgevoer. Meer as 90-persent van Suid-Afrika se uitvoere na China is mynbouprodukte. Suid-Afrika koop meestal masjinerie, klere en voertuie by China.
# En padwedlope: Die Comrades-marathonvereniging sê alles is gereed vir die groot jaarlikse wedloop. Vanjaar se afdraande-wedloop, van Pietermaritzburg na Durban, het ‘n rekordaantal 24-duisend inskrywings. Die hoofbestuurder van die Vereniging, Alain Dalais sê as gevolg hiervan moes ‘n paar veranderinge aangebring word om die veiligheid van atlete te verseker. Een van die veranderinge is ‘n tweeledige wegspring, wat nog nooit tevore gedoen is nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….