Nuus 13:00
BULLETIN 6 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering van Nasionale Eenheid moet verantwoording doen aan Black Business Council-beraad
# Die regering sê kinders se veiligheid moet ‘n nasionale prioriteit bly
# En, Israel teiken hommeltuig-fabrieke in Libanon
# Die uitvoerende hoof van die Black Business Council, Kganki Matabane, sê die Regering van Nasionale Eenheid moet terugvoer gee aan die afgevaardigdes by sy beraad rondom wat daar tot dusver bereik is. Die beraad het ten doel om sake-, politieke leiers en die burgerlike samelewing byeen te bring om vordering, transformasie en uitdagings waarmee ondernemings in swart besit en ekonomiese ontwikkeling worstel, te bespreek. Matabane verduidelik wat hulle verwag:
# Kinderbeskermingsweek is byna verby en die regering doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om die beskerming en welstand van kinders heel jaar ʼn prioriteit te maak. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistieke is sowat een-duisend-100 kinders die afgelope boekjaar in die land vermoor. Die regering se woordvoerder, Mfundo Nkosi, sê kinders se veiligheid moet heel jaar ʼn nasionale prioriteit wees:
# Israeliese lugaanvalle het gister die suidelike voorstede van Beiroet, die hoofstad van Libanon, getref en duisende mense moes inderhaas vlug. Reuters berig die Israeliese weermag het mintens tien aanvalle in die gebied, bekend as Dahiyeh, uitgevoer nadat ontruimingswaarskuwings uitgereik is. Die Israeliese weermag het gesê hy beplan om ondergrondse hommeltuig-fabrieke aan te val wat met opset in die hartjie van die burgerlike bevolking gevestig is. Die weermag sê Hezbollah vervaardig duisende hommeltuie daar en beweer Iran het die leiding verskaf en dit befonds.
# Rugby: Die Haaie draf môre op die veld sonder hulle twee kragreuse, Eben Etzebeth en Jason Jenkins wat albei beseer is. Dit beteken hulle speel hulle halfeindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap in Pretoria met Corné Rahl en Emile van Heerden as slotpaar. Die kaptein van die Haaie, Siya Kolisi, sê hulle verwag ‘n taai wedstryd. Hy sê hulle doel is om die soort rugby te spel wat hulle weet hulle in staat is om te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-769-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-80-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse geoloog, Tebogo Makhubela is aangewys as ‘n National Geographic-verkenner en die ontvanger van die 2025 Wayfinder-toekenning. Makhubela word gevier vir sy navorsing by die Wieg van die Mensdom en omdat hy help om antieke geheime rondom die mens en sy oorsprong te ontsluit. Makhubela is deel van die Rising Star-span by National Geographic, wat die Homo Naledi en vroeë begrafnis-gebruike bestudeer. Hy sê die toekenning is ‘n mylpaal vir navorsers in Afrika en die vorming van die mensdom se gedeelde verhaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….