Nuus 13:00
BULLETIN 5 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie sê Gauteng toon vordering in die stryd teen misdaad
# Minister Creecy beveel ACSA om met Airports Coordination Services te onderhandel
# En, die liggame van twee Israeli-Amerikaanse gyselaars van 7 Oktober 2023 is tydens ‘n oornag-operasie gevind
# Die provinsiale Polisiekommissaris in Gauteng, Tommy Mthombeni, sê die provinsie vorder met sy stryd teen misdaad en het vanaf Januarie tot Maart vanjaar ‘n afname van 7,9-persent aangeteken. Hy het die provinsiale wetgewer se Portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid ingelig oor sake in Johannesburg in die vierde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar. Mthombeni sê hierdie afname is positief, maar Gauteng het steeds 26,2-persent bygedra tot die algehele nasionale misdaadsyfer:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die raad van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika aangesê om met Airports Coordination Services te bemiddel oor ‘n geskil oor bagasiekeuring by lughawens. Die geskil, waarby die Burgerlugvaartowerheid ook betrokke is, het tot voortslepende litigasie gelei. Creecy waarsku dat die stryd lughawesekerheid en nasionale sekerheid kan beïnvloed. Die woordvoerder van die Ministerie, Collen Msibi sê die raad is opdrag gegee om ‘n bemiddelingsooreenkoms te finaliseer en binne twee weke ‘n volledige verslag oor regskoste in te dien.
# Die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu sê die liggame van twee Israeli-Amerikaners wat in die Hamas aanval op 7 Oktober 2023 dood is, is uit Gaza aan Israel terugbesorg. Hy het hulle geïdentifiseer as Judy Weinstein Haggai en Gad Haggai. Volgens ‘n gesamentlike verklaring deur die weermag en die Shin Bet-veiligheidsagentskap is die liggame tydens ‘n oornagoperasie in die Khan Yunis-gebied van die suidelike Gazastrook herwin.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het dieselfde 54 spelers wat verlede maand die tweede nasionale oefenkamp in Kaapstad bygewoon het, in sy finale groep vir die begin van die internasionale seisoen opgeneem. Die sesisoen skop op 28 Junie teen die Barbarians af. Daar is 31 wêreldbeker-spelers in die groep asook nege sonder enige toetservaring. Hulle is Marnus van der Merwe, Neethling Fouché, Asenathi Ntlabakanye, Cobus Wiese, Renzo du Plessis, Vincent Tshituka, Juarno Augustus, Ethan Hooker en Ntokozo Makhaza.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-786-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-384-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrikaners word op Wêreldomgewingsdag aangemoedig om hulle rooibosteeblare te herwin as deel van pogings om afval te verminder. Die Suid-Afrikaanse Rooibosteeraad sê meer as 3,5-miljard koppies rooibostee word jaarliks gedrink wat ‘n geleentheid bied om gebruikte tee in kompos, natuurlike skropmiddels of mot-afweringsmiddels te omskep. Adele du Toit van die raad sê slegs tien-persent van afval word herwin en rooibos bied ‘n eenvoudige manier om ‘n skoner omgewing te skep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….