Nuus 13:00
BULLETIN 1 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF in Gauteng veroordeel die moord op die IVP LP Khethamabala Sithole
# SA landbou bly veerkragtig te midde van wêreldwye handelsdruk
# En, Atletiek: James Moloi herkies as Atletiek Suid-Afrika-president
# Die EFF in Gauteng het die moord op die adjunkhoofsweep van die IVP, Khethamabala “KP” Sithole, veroordeel en dit as ‘n sinnelose daad van geweld beskryf. Die party het sy meegevoel betuig met die Inkatha Vryheidsparty en Sithole se familie en sy jare lange openbare diens geloof. Die IVP se provinsiale sekretaris, Alco Ngobese, is ook geskiet en gewond in die aanval gisteraand in Katlehong, Gauteng. Die EFF het die polisie versoek om beslissend op te tree teen politieke moorde en geweld met vuurwapens, en het Ngobese ‘n spoedige herstel toegewens.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het die oorlede anti-apartheidsaktivis Gertrude Shope as ‘n fakkeldraer van die bevrydingstryd beskou. Lesufi het tydens haar begrafnisdiens Shope beskryf as ‘n wêreldleier wat die African National Congress in verskeie hoedanighede bevorder het. Hy beklemtoon dat haar nalatenskap toekomstige geslagte sal inspireer in die voortdurende strewe na gelykheid en geregtigheid:
# Agbiz se hoof-ekonoom, Wandile Sihlobo, sê Suid-Afrika se landbousektor bly floreer, ondanks wêreldwye handelsuitdagings. Sihlobo het op ‘n paneelbespreking op Creamer Media gesê die sektor het produksie sedert 1994 verdubbel en voer jaarliks die helfte daarvan uit. Sihlobo waarsku dat moontlike Amerikaanse tariewe onder Donald Trump uitvoere kan benadeel, maar sê plaaslike boere is uiters aanpasbaar en innoverend. Hy sê dit is noodsaaklik vir eienaars van landboubesighede wat uitvoergeleenthede wil maksimaliseer, om met vennote te skakel wat waarde kan ontsluit.
# Die president van Atletiek Suid-Afrika, James Moloi, is gister vir ‘n tweede termyn as president herkies. Moloi, wat voorheen vir ‘n termyn van vier jaar gedien het, is saam met die meeste van sy bestaande raadslede herkies. John Mathane van Gauteng-Noord is as vise-president aangestel, wat Shireen Noble vervang, terwyl Kesaoleboga Molotsane van Atletiek Vrystaat as atleteverteenwoordiger oorgeneem het. Moloi het vertroue uitgespreek in die voortsetting van ASA se vordering, en het doelwitte soos die verkryging van borgskappe en die aanstelling van ‘n permanente uitvoerende hoof beklemtoon.
# En, Tennis: Dit was ‘n dag vir die groot name om gemaklik na die laaste 16 van die manstoernooi deur te dring. Die topgekeurde Jannik Sinner het slegs drie potte weggegee om met Jiri Lehecka af te reken. Die Britse wêreld nommer-vyf, Jack Draper, het die Brasiliaanse tiener Joao Fonseca uitgestof en die driemalige kampioen Novak Djokovic het die Oostenrykse kwalifiseerder Filip Misolic in drie stelle geklop. Saam met die top agt gekeurde spelers in die damesafdeling, is dit die eerste keer sedert 2003 dat al die gekeurde spelers die vierde ronde haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….