Nuus 13:00
BULLETIN 31 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die struggle-ikoon Gertrude Shope se nalatingskap is die hoeksteen van die nasie se reis na demokrasie
# ‘n Verdagte in die Olorato Mongale-moord gee hom aan die polisie oor
# En, vanjaar se Wêreld Geen Tabak-dag word gehou te midde van die ontmaskering van die bedryf se taktiek om jong gebruikers te lok
# President Cyril Ramaphosa het die begrafnis van die vryheidsvegter en ANC-staatmaker Gertrude Shope as beide ‘n hartseer en feestelike oomblik beskryf. Ramaphosa het op haar gedenkdiens haar lewe van bykans tien dekades gehuldig as ‘n grootse bydrae tot Suid-Afrika se demokrasie. Hy het ook Shope se rol in die totstandkoming van die Grondwet en haar leierskap in die ANC-vroueliga geprys en gesê haar nalatenskap is ‘n hoeksteen van die nasie se demokratiese reis:
# ‘n Gesoekte verdagte in die moord op die 30-jarige Olorato Mongale van Johannesburg het homself by die KwaMashu-polisiestasie oorgegee. Mongale se liggaam is in Lombardy-Wes in Johannesburg gevind nadat sy ‘n afspraak met haar vermeende moordenaar gehad het. Die polisie het bevestig dat twee verdagtes reeds aangehou word en nóg een, Philangenkosi Makhanya, gister in ‘n skietery dood is. Hulle soek nog na ‘n derde verdagte, wat skynbaar na Zimbabwe gevlug het. Mongale word môre in Bloemfontein begrawe.
# Vandag is Wêreld Geen Tabak-dag. Die Wêreldgesondheidsorganisasie en gesondheidsaktiviste wêreldwyd beklemtoon die bedrieglike taktiek wat die tabak- en nikotienbedryf inspan om veral jong gebruikers te lok. Die tema, Ontmasker die Aantrekkingskrag, vra vir bewustheid en strenger beleid, soos ‘n verbod op geurmiddels om die toename in tabakgebruik te bekamp. Die veldtog eis dringende optrede om die jeug te beskerm en openbare gesondheid wêreldwyd te beveilig.
Die president van die Maldives, Mohamed Muizzu, het intussen die Wêreldgesondheidsorganisasie se spesiale erkenning vir Wêreld Geen Tabak-dag ontvang vir sy leierskap in tabakbeheer. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Ghebreyesus, het Muizzu se toewyding aan openbare gesondheid geprys. Die Maldive-eilande het onder sy leierskap e-sigarette verbied, die ouderdom vir die gebruik van tabakprodukte tot 21 verhoog en rookvrye gebiede uitgebrei. Ghebreyesus het ook die Maldives se gratis ophou-rook-programme deur verhoogde tabakbelasting verwelkom om toegang tot tabak te beperk en lewens te red:
Rugby: Die Stormers is vir ‘n tweede jaar agtereenvolgens deur die Glasgow Warriors uit die Verenigde Rugbykampioenskap geboender. Hulle is gisteraand in die kwarteindronde in die Scotstoun-stadion met 36-18 verslaan. Die afrigter John Dobson sê dit was hul swakste vertoning die afgelope paar jaar, weens baie foute en hulle het nie as ‘n eenheid saamgespeel nie. Dobson het egter gesê die Warriors moet groot krediet kry vir hul uitstekende verdediging. Hy sê die aanslag deur Franco Smith se span was wreed. Die verlies van die kaptein Salmaan Moerat weens ‘n besering vroeg in die wedstryd het die Stormers ook geknak.
# En om mee af te sluit, Tshwane se Verkeersdepartement vra motoriste om strate om Loftus Versfeld in Arcadia vandag te vermy weens die rugbywedstryd tussen die Bulle en Edinburgh net ná eenuur vanmiddag. Farendenstraat, Parkstraat, Lynnwoodweg en Kirkness-straat sal tot sesuur vanaand gesluit wees. Alternatiewe roetes wat aanbeveel word is Francis Baard-, Pretorius- en Stanza Bopape-strate. Polisiebeamptes en metropolisielede is ontplooi om verkeer te monitor en veiligheid te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….