Nuus 13:00
BULLETIN 30 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê misdaad mag nie verder in Suid-Afrika genormaliseer word nie
# Steveno van Rhyn gaan appèl aanteken teen sy lewenslange vonnis in Joslin Smith-saak
# En, Joseph Kabila is terug in die DRK en ontmoet M23-rebelle in Goma
# Cosatu sê hy is bekommerd oor die ontstellende vlakke van geweld waaraan baie werkers, veral vroue, by werkplekke blootgestel word. Die vakbondfederasie sê hy het onlangs ‘n protesoptog by die Kopanong-myn in Noordwes gehou nadat vroulike werkers aan onwettige, indringende naak-deursoeke onderwerp is. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê misdaad mag nie verder in die land genormaliseer word nie:
# Een van die drie skuldiges in die Joslin Smith-saak, Steveno van Rhyn, gaan verlof tot appèl aanteken teen sy lewenslange vonnis. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Van Rhyn, Kelly Smith en Jacquen Appollis tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir mensehandel, en ‘n verdere tien jaar vir ontvoering. Al drie sal in die Kinderbeskermingsregister gelys word. Van Rhyn se prokureur, Nobahle Mkabayi, hou vol dat hy onskuldig is:
# Oud-president Joseph Kabila was gister terug in die Demokratiese Republiek die Kongo en het plaaslike leiers in Goma ontmoet. Die stad in die ooste van die DRK word deur die Rwanda-gesteunde M23-rebelle beset. Hy is in Goma ten spyte daarvan dat hy ‘n moontlike hoogverraadverhoor in die gesig staar oor sy beweerde steun vir die M23-rebelle. Felix Tshisekedi, sy opvolger as die president van die DRK, beskuldig Kabila daarvan dat hy die meesterbrein vir die gewapende groep is. wat dele van die mineraalryke Kongolese ooste met Rwanda se hulp beset het.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, John Plumtree, het vyf veranderinge aan sy span aangebring wat verlede week die Scarlets geklop het, vir hul kwarteindstryd môre teen Munster in Durban. Jason Jenkins begin as slot met Emile van Heerden wat na die bank skuif. James Venter keer terug as flank, terwyl die tweemalige Rugbywêreldbeker-wenner, Siya Kolisi, na die beginspan terugkeer as agtsteman. Hy vervang Phepsi Buthelezi, wat dryfkrag van die bank af sal verskaf. Jordan Hendrikse begin as losskakel en Lukhanyo Am is terug vir sy 100ste internasionale wedstryd vir die Haaie.
Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-313-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte, die helfte van die wêreldbevolking het die afgelope jaar ‘n bykomende maand van uiterste hitte verduur as gevolg van mensgemaakte klimaatsverandering. ‘n Nuwe studie beklemtoon hoe die voortgesette verbranding van fossielbrandstowwe gesondheid en welstand op elke vasteland benadeel, terwyl die gevolge in ontwikkelende lande moeiliker is om te bepaal. Die ontleding deur wetenskaplikes by World Weather Attribution, Climate Central en die Rooikruis Rooihalfmaan Klimaatsentrum, is vrygestel aan die vooraand van die wêreldwye Hitte-aksiedag op Maandag, wat vanjaar die gevare van hitte-uitputting en sonsteek beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….