Nuus 13:00
BULLETIN 27 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Malatsi ontken Starlink kry voorkeurbehandeling met die nuwe SEB-wysigings
# Kommer oor Amerika se afwesigheid op vergadering van G20-landbouwetenskaplikes
# En, Vrystaatse pastoor kry lewenslank vir verkragting van minderjarige
# Die minister van Kommunikasie en Tegnologie, Solly Malatsi, het aantygings verwerp dat die voorgestelde wysigings aan swart ekonomiese bemagtigings-regulasies in die inligtings- en kommunikasiesektor daarop gemik is om die sakemagnaat Elon Musk se satelliet-maatskappy, Starlink, te bevoordeel. Hy het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie gesê die beleidsrigting wil die bedryf se lisensiëringsreëls in ooreenstemming bring met bestaande sektor-kodes en ekwiteit-ekwivalente beleggingsprogramme toelaat:
# Suid-Afrika het kommer uitgespreek oor die afwesigheid van Amerika op die vergadering van internasionale landbouwetenskaplikes wat in Polokwane, Limpopo aan die gang is. Die vierdaagse beraad is ‘n samekoms van kenners van G20-lande om die wêreld se landbou-uitdagings te takel, insluitend klimaatsveranderin en die beperkte befondsing vir boere in ontwikkelende lande. Afgevaardigdes se doel is om voedselsekerheid deur navorsingsamewerking en inligting-uitruiling te versterk. Die adjunk-minister van Landoub , Zoleka Capa, sê Amerika se afwesigheid verswak wêreldpogings:
# Die Streekshof in Edenburg in die Vrystaat het pastoor Albert Tamasane tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die seksuele misbruik van sy slagoffer wat elf was toe sy in 2019 in sy sorg gelaat is. Volgens Mojalefa Senokoatsane van die Nasionake Vervolgingsgesag beklemtoon die uitspraak die oplegging van die maksimum straf in ‘n misdaad waar die slagoffer se vertroue verraai is:
# Tennis: Dit het nie lank geneem vir T-hemde ter ere van Rafael Nadal om die swartmark te tref nie. Die organiseerders van die Franse Ope het 10-duisend baksteenrooi T-hemde met die woorde “Merci Rafa” uitgedeel vir Sondag se afskeidseremonie van die 14-malige Spaanse kampioen op Roland Garros, wat ‘n dramatiese agtergrond vir die emosionele geleentheid gevorm het. Baie van die T-hemde is egter sedertdien te koop aangebied vir tussen drie- en tien-duisend-rand. Die Franse Tennisfederasie is teleurgesteld omdat mense probeer geldmaak uit die geskiedkundige geleentheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-627-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Inwoners van Gordonsbaai in Kaapstad het vanoggend wakker geword met die onverwagte gesig van ‘n see-olifant wat deur die strate beweeg – amper ‘n kilometer van die water af. Aanlyn foto’s en video’s wys die sigbaar uitgeputte rob wat stadig beweeg en selfs met sy bolyf op ‘n geparkeerde voertuig rus. Lede van die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermings-vereniging het gaan help. Woordvoerder Belinda Abraham sê inspekteurs werk aan ‘n veilige plan om die dier terug in die see te kry sonder om hom te veel te ontstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….