Nuus 13:00
BULLETIN 24 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA Vroueforum doen ‘n beroep vir die dringende regulering van kindersorgfasiliteite
# Die Polisie soek na twee verdagtes wat vier mense in Dundee KZN doodgeskiet het
# En rugby: Penaud terug in Bordeaux se beginspan vir die Kampioenebeker-eindstryd
# ActionSA se Vroueforum sê ongereguleerde kinderversorgingsfasiliteite word steeds bedryf sonder die nodige sertifisering of nakoming van veiligheidstandaarde in die land. Modiehi Mashaba van die forum sê die tragiese dood van vier kinders Maandag in ‘n brand in Mayfair, Johannesburg, beklemtoon die sistemiese mislukking om kinders teen onveilige omgewings te beskerm. Sy sê geen kind moet ooit sy of haar lewe verloor as gevolg van nalatigheid in ‘n vroeë kinderontwikkelingsfasiliteit nie:
# Eskom sê die kragstelsel is bestendig en het veerkragtigheid getoon namate ‘n koue front die week sommige dele van die land getref het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê stelselbeperkings is steeds daar, maar voldoende noodreserwes is in plek en strategies ontplooi om die vraag in die winter te ondersteun. Sy sê altesaam vyf-duisend-760 megawatt se opwekkingskapasiteit sal na verwagting voor die aandpiek op Maandag weer in bedryf wees om die netwerk verder te stabiliseer:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het ‘n soektog van stapel gestuur na twee verdagtes wat gisteraand vier mense by ‘n huis in die Mzomusha-gebied in Dundee doodgeskiet het. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê twee manlike slagoffers, onderskeidelik 31 en 35 jaar oud, was buite die huis toe twee verdagtes opgedaag en op hulle losgebrand het. Hy sê die verdagtes het toe die huis binnegegaan en geld en dwelms van ‘n 29-jarige vrou geëis:
# Die GOOD-party het teleurstelling uitgespreek oor die staat se besluit om voorlopig die bedrogklagte van een-miljard-rand teen die voormalige burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings van Kaapstad, Malusi Booi, en die vermeende bendebaas, Ralph Stanfield en ander terug te trek. Die party sê die stap wek ernstige kommer oor die Nasionale Vervolgingsgesag se vermoë om ingewikkelde sake aan te pak. Brett Herron van GOOD, doen ‘n beroep op ‘n volledige, onafhanklike ondersoek na die stad se beweerde bande met bendenetwerke:
# Die hoof van die VN sê die hulp wat Israel in Gaza toegelaat het, is slegs ‘n druppel in die emmer, terwyl ‘n vloedgolf hulp benodig word. Hy het gewaarsku dat meer mense sal sterf tensy daar vinnige, betroubare, veilige en volgehoue toegang tot hulp is. Israel sê ongeveer 300 hulpvragmotors is deurgelaat sedert hulle Maandag ‘n elf-week-lange blokkade opgehef het, maar volgens Guterres is slegs ongeveer ‘n derde na pakhuise binne Gaza vervoer. Kenners het gewaarsku dat talle van Gaza se twee-miljoen inwoners die gevaar van hongersnood loop.
# En, Rugby: Die Franse vleuel Damian Penaud is in Bordeaux-Begles se opdrafspan vir vandag se Kampioenebeker-eindstryd teen Northampton in Cardiff. Penaud was op die kantlyn met ‘n enkelbesering sedert die halfeindstryd-oorwinning oor Toulouse vroeër die maand. Die 28-jarige het hierdie seisoen 21 drieë vir die klub en Frankryk gedruk en vorm ‘n gevaarlike vennootskap met Louis Bielle-Biarrey. Hoofafrigter Yannick Bru het ses ander veranderings aan sy span aangebring sedert verlede naweek se Top 14-oorwinning oor Castres, insluitend die insluiting van Tonga se swaargewigstut, Ben Tameifuna, op die bank.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….