Nuus 13:00
BULLETIN 22 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se skuldkoste skiet die hoogte in
# Kleinhandelverkope herstel met 1.5% groei in Maart
# En, Oos-Kaapse gesondheidsorgwerkers in Lusikisiki doodgeskiet
# Suid-Afrika se skuldkoste styg skerp, met skuldbetalings wat nou 22 sent van elke rand wat ingevorder word, insluk. Ekonoom, Phelisa Nkomo, waarsku dat dit kommer wek oor ‘n potensiële skuldstrik. Terwyl baie lande skuld produktief gebruik om infrastruktuur soos paaie en telekommunikasie te bou, sê sy dat Suid-Afrika uitdagings in die gesig staar oor hoe geleende geld bestee word. Nkomo het aan eNCA gesê dat die land dringende fiskale hervormings nodig het:
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Maart met 1.5-persent jaar-op-jaar gestyg, hoofsaaklik versterk deur goeie prestasies in farmaseutiese produkte, skoonheidsmiddels en klerewinkels. Kleinhandel in farmaseutiese produkte en persoonlike versorgingsgoedere het met 7-persent gegroei, terwyl tekstiel-, klere- en skoenverkope met 3.5-persent gestyg het. Raquel Floris van Statistieke SA sê algemene handelaars en klerewinkels was die hoofdryfvere:
# Twee gesondheidswerkers is doodgeskiet by die St Elizabeth-hospitaal in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Die verpleegkundige en ‘n menslike hulpbronne-bestuurder het by die hospitaal gewerk. Sizwe Kupelo van die provinsiale Gesondheidsdepartement sê besonderhede van die voorval bly onduidelik. Die LUR, Ntandokazi Capa, het haar skok uitgespreek en op ‘n deeglike ondersoek aangedring. Sy het haar meegevoel betuig aan die slagoffers se gesinne en kollegas, en sê die polisie ondersoek die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die moorde.
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê president Cyril Ramaphosa se vergadering met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het die toenemende koste van Suid-Afrika se mislukte beleidspunte blootgelê, wat beleggersvertroue en internasionale geloofwaardigheid skade berokken het. Gister se vergadering in die Withuis het hoofsaaklik op plaasmoorde gefokus, met Trump wat sy bewerings van volksmoord in Suid-Afrika herhaal het. Hermann Pretorius van die instituut sê die regering moet rasgegronde beleid beëindig.
# Sokker: Mamelodi Sundowns en Pyramids van Egipte speel Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria teen mekaar in die eerste wedstryd van die CAF-Kampioeneliga-eindstryd. Sundowns, wat pas sy agtste agtereenvolgende liga-kroon ingepalm het, mik na sy tweede Afrika-titel. Pyramids, wat in sy eerste eindstryd speel, kom voor ‘n ervare Sundowns-span te staan wat Al Ahly in die halfeindronde geklop het. Die middelveldspeler Tashreeq Matthews het aan die media gesê Sundowns is gereed om te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-439-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….