Nuus 13:00
BULLETIN 19 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wys minister Mantashe as waarnemende president aan
# Dieselpryse kan in Junie moontlik daal tot die laagste vlak in drie jaar
# En die Ministerie van Polisie loof geregsdienaars vir hulle optrede in ‘n noodlottige skietgeveg in Boksburg
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, as waarnemende president aangewys tot Donderdag. Ramaphosa en ‘n afvaardiging is op pad na Amerika, waar hy Woensdag met president Donald Trump in die Withuis sal vergader om globale en bilaterale kwessies te bespreek. Dit volg op Trump se bewerings oor grondbesettings en die behandeling van Afrikaners, en sy aanbod om hulle in Amerika te hervestig. Adjunkpresident Paul Mashatile is op ‘n amptelike besoek aan Frankryk.
# Dieselpryse kan volgende maand met tot 94-sent-per-liter daal, wat dit moontlik die laagste vlakke in drie jaar sal laat bereik. Die Sentrale Energiefonds sê die verwagte daling kan toegeskryf word aan dalende wêreld-oliepryse en die rand wat sedert middel April met meer as tien-persent versterk het. Daar word verwag dat die prys tussen 74- en 94-sent-per-liter sal daal, wat beduidende verligting vir die vrag- en die landbousektor sal bring. Die fonds het egter gewaarsku dat skommelinge in oliepryse en wisselkoerse die finale aanpassing kan beïnvloed.
# Die Ministerie van Polisie het die vinnige optrede van die polisie en privaat sekerheidsdienste in Boksburg geloof, waar ’n groep mees-gesoekte transito-roof-verdagtes tydens ’n skietgeveg dood is. Verskeie vuurwapens is herwin. Die verdagtes is gekoppel aan geweldsmisdaad in Gauteng en KwaZulu-Natal. Volgens woordvoerder Kamogelo Mogotsi het minister Senzo Mchunu die wetstoepassers geloof en gesê hulle bly vasbeslote om georganiseerde misdaad uit te roei:
# Die GOOD-party se evaluering van die begroting toon dat Kapenaars moontlik byna tien-persent ekstra op hul maandelikse rekeninge aan die Stad Kaapstad sal moet betaal. Die metro se begroting word volgende Donderdag tydens ‘n sitting van die raad voorgelê. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die tyd vir openbare kommentaar op die begroting het verstryk sonder dat inwoners oor die beoogde tariefverhogings ingelig is:
# Rugby: Moana Pasifika se speler, Ardie Savea, het Super Rugby Pacific se eerste Speler van die Jaar-toekenning gewen waarvoor klubkapteins en afrigters stem. Die All Black-losvoorspeler het hierdie seisoen tien keer vir Moana uitgedraf, vyf drieë gedruk, 110 duikslae uitgevoer en 15 keer omkeerbesit bewerkstellig. Super Rugby Pacific se uitvoerende hoof, Jack Mesley, sê Savea se passievolle leierskap en oorheersende vertonings het ‘n onuitwisbare merk gelaat op sy spanmaats, sy teenstanders en die hele kompetisie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-246-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-236-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….