Nuus 13:00
BULLETIN 16 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Finansiële Intelligensiesentrum tree streng op teen eiendomsagente en prokureurs te midde van druk oor die gryslys
# Die Appèlhof verwerp die deportasie-appèlaansoek van Thabo Bester se gewese minnares
# En ‘n reuse-Suid-Afrikaanse bloudiamant verkoop vir 383-miljoen-rand
# Die Finansiële Intelligensiesentrum het ondersoeke verskerp en opgetree teen eiendomsagente en regspraktisyns wat versuim om verpligte risiko- en nakomingsverslae in te dien. Hierdie sektore is van die laaste struikelblokke wat Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys verhoed. Hoewel nakomingsvlakke tot ongeveer 70-persent verbeter het, dring die sentrum aan op feitlik-volledige nakoming. Instellings wat nie voldoen nie, kan boetes van tussen tien-duisend- en 50-duisend-rand kry. Die sentrum beklemtoon dat volle nakoming van uiterste belang is om risikobepaling te verbeter en onttrekking van die gryslys te vergemaklik.
# Die Appèlhof het Nandipha Magudumana se aansoek verwerp om haar deportasie uit Tanzanië in 2023 onwettig te laat verklaar. Die voormalige minnares van die ontsnapte moordenaar Thabo Bester het beweer sy is ontvoer, maar die hof handhaaf die uitspraak van die Vrystaatse Hooggeregshof dat sy ingestem het om terug te keer. Magudumana staan tereg op aanklagte wat verband hou met Bester se ontsnapping. Mthunzi Mhaga van die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hulle is gereed om voort te gaan met die verhoor:
# Die uitvoerende hoof van die Motorsakeraad, Mikel Mabasa, sê die sektor het die Amerikaanse gesant, Mcebisi Jonas, betrek oor uitdagings wat deur die Amerikaanse president Donald Trump se nuwe tarief-bepaling veroorsaak word. Mabasa het op die bekendstelling van die 2025 Naamsa-handels-handleiding die hoop op voortgesette uitvoere na die VSA beklemtoon, ondanks vrese oor Afrika se toegang tot die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Amerika is Suid-Afrika se derde grootste motoruitvoermark, met handel ter waarde van byna 29-miljard-rand verlede jaar. Mabasa het AGOA se verlenging tot 2041 beklemtoon.
# Tafeltennis: Lenasia se Tafeltennisvereniging in Gauteng het aangekondig dat Danisha Patel Suid-Afrika gaan verteenwoordig op die Wêreldkampioenskap. Dit vind van môre tot volgende Sondag in Doha, Katar, plaas. Patel het meer as ‘n dekade se ondervinding en is nie net ‘n top-speler nie, maar ook ’n afrigter. Die vereniging se voorsitter, Vikash Kasan, het haar toewyding geprys en haar ’n inspirasie genoem. Patel sê sy is senuweeagtig, maar opgewonde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-757-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-210-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n splinternuwe bloudiamant wat onlangs in die Cullinan-myne in Suid-Afrika ontgin is, Mediterranean Blue, is vir 383-miljoen-rand verkoop op Sotheby’s se veiling in Genève, Switserland. Die bod vir die diamant, wat 10,3 karaat weeg, het op 198-miljoen-rand begin. Sotheby’s se hoof van juweliersware, Quig Bruning, sê die edelsteen tel onder die top- bloudiamante wat hulle al verkoop het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….