Nuus 13:00
BULLETIN 15 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerikaanse agentskappe word glo verbied om aan die G20-beraad in Suid-Afrika deel te neem
# Finansiële raadgewers waarsku teen gereelde en onnodige pensioenonttrekkings
# En Kirstenbosch haal New York Times se lys van die tien beste tuine ter wêreld
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Amerikaanse agentskappe glo verbied om aan die G20-beraad in Suid-Afrika deel te neem. Volgens Washington Post het die Withuis se Nasionale Veiligheidsraad die opskorting gelas, met verwysing na beweerde volksmoord en grondonteieningswette. Trump en sy minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het gedreig om die beraad te boikot en sodoende druk geplaas op president Cyril Ramaphosa voor volgende week se besoek aan Washington. Die Withuis en die Departement van Buitelandse Sake het nog nie die beweerde verbod amptelik bevestig nie.
# Finansiële raadgewers waarsku teen vroeë pensioenonttrekkings terwyl die tweede fase van die tweepot-stelsel in Maart afgeskop het. Hoewel sommige mense weer geld onttrek of dit die eerste keer doen, sê kenners dat dit ernstige langtermyn-gevolge kan hê. Die nasionale skuldraadgewer Samantha Moyana het met die SABC gepraat en mense aangemoedig om slegs hul aftreefondse te gebruik in gevalle van dringende en ernstige finansiële nood:
# Die Stad Kaapstad se Energie-afdeling sê hy doen beduidende opknappings aan sy elektrisiteitsinfrastruktuur en belê heelwat om die netwerk te verbeter. Die metro gaan oor die volgende drie jaar vier-miljard-rand in elektrisiteitsopgraderings belê. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die metro se elektrisiteitsinfrastruktuur is betroubaar danksy sy uitgebreide onderhoudsprogram:
# SA Rugby se president, Mark Alexander, het hulde gebring aan Cornal Hendricks en hom beskryf as ‘n uitsonderlike atleet wie se bydrae tot die sport altyd onthou sal word. Die 37-jarige gewese Springbok-vleuel is gisteraand oorlede, vermoedelik na ‘n hartaanval. Hy het 12 toetse vir die Bokke gespeel en Boland, die Cheetahs en die Bulle verteenwoordig. Alexander sê Hendricks was een van daardie spelers wat die sport liefgehad en uiters hard gewerk het, maar altyd met ‘n glimlag, en het almal met respek behandel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-en-62-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-168-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte, die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine in Kaapstad het New York Times se lys van die tien beste tuine ter wêreld gehaal. Die tuin teen die oostelike hange van Tafelberg vertoon Suid-Afrika se unieke plantegroei, insluitend die fynbos-bioom en eeu-oue broodbome. Die tuin is negende, net ná The High Line in New York, terwyl die Sissinghurst-kasteel in Cranbrook, Engeland, se tuin eerste op die lys is. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Kirstenbosch is ‘n nasionale skat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….