Nuus 13:00
BULLETIN 14 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke deursoek die Hooggeregshof in Pretoria oor vals kennisgewings vir buitelandse burgers
# Minister Ramokgopa vra om verskoning vir die skielike terugkeer van beurtkrag
# En gemengde gevegskuns: Dricus du Plessis verdedig sy titel in Augustus
# Die Valke het ‘n deursoekings- en beslagleggingsoptrede in die Hooggeregshof in Pretoria uitgevoer in verband met ‘n werknemer wat skynbaar bedrieglike kennisgewings uitgereik het. ‘n Woordvoerder van die Valke in Gauteng, Katlego Mogale, sê die persoon het kennisgewings aan ongedokumenteerde buitelandse burgers uitgereik om te verhoed dat hulle gedeporteer word. Mogale sê die Vallke het beslag gelê op bewysstukke vir verdere ondersoek.
Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het intussen bevestig dat 15 geboue in die Johannesburgse middestad wat onwettig beset is, herwin is. Hy sê die geboue sal gesloop en oorgebou word. Daar is na raming 413 soortgelyke geboue regoor die provinsie geïdentifiseer. Lesufi benadruk dat baie van die geboue deur ongedokumenteerde buitelandse burgers beset word, wat die uitsettingsprosesse bemoeilik weens die wetlike vereistes om alternatiewe verblyf te voorsien. Hy sê die provinsiale regering is besig om die onwettige besettings na te gaan en reg te stel.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het om verskoning gevra vir gister se skielike terugkeer van beurtkrag, maar is steeds optimisties oor ‘n beurtkragvrye winter. Eskom is gedwing om fase 2-beurtkrag in aandspitstye in te stel tot môreaand – van 4-uur die middag tot 10-uur saans. Dit volg op opwekkingseenhede wat buite werking is en onderbrekings in die afgelope 24-uur. Ramokgopa sê hulle werk hard om te verseker beurtkrag word nie ‘n gewoonte nie:
# Gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis gaan sy onbestrede wêreld-middelgewigtitel op 17 Augustus op UFC 319 in die United Centre in Chicago verdedig teen die Rus Khamzat Chimaev. Du Plessis het in Februarie sy titel behou toe hy die Amerikaner Sean Strickland verslaan het. Hy het 20 van sy 23 gevegte met uitklophoue gewen, terwyl Chimaev se onoorwonne rekord 16-0 is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-224-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-229-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-88-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika se openbare gesondheidsorg vaar goed volgens internasionale standaarde vir bekostigbare gesondheidsorg. Dit is ondanks die feit dat slegs 15-persent van die bevolking toegang het tot private gesondheidsorg. Belanghebbendes het op die Raad van Gesondheidsorgfinansierders se jaarkonferensie in Kaapstad die behoefte beklemtoon om gesondheidsorg te hervorm. Die raad se besturende direkteur, Katlego Mothudi, het aan die SABC gesê gesondheidsorg moet meer toeganklik wees vir alle Suid-Afrikaners:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….