Nuus 13:00
BULLETIN 13 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Media-organisasies verwelkom die inhegtenisneming van nog verdagtes in die moord op ‘n joernalis en sy lewensmaat
# Sowat 250-miljoen-rand is nodig om 63 sinkgate in Tshwane te herstel
# En tennis: Jasmine Paolini word die eerste plaaslike speler in 11-jaar om die kwarteindronde van die Italiaanse Ope te bereik
# Die Afrika- Media en Kommunikasie-forum en die Nasionale Persklub het die polisie geprys vir sy voortgesette harde werk om die moordsaak van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli, op te los. Die voorsitter van die Nasionale Persklub, Antoinette Slabbert, het reageer nadat nog drie verdagtes vanoggend in Nokaneng naby Rust de Winter in Limpopo in hegtenis geneem is. Dit beteken daar is reeds agt mense vasgetrek. Slabbert sê van die verdagtes het reeds in die hof verskyn:
# RISE Mzansi sê die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het onthul dat hy sedert die begin van die 2024/’25-boekjaar meer as 217-miljoen-rand in 287 eise betaal het. Hiervan was 14 produktiewe plase ten tyde van die skikking. Die departement het tussen 2014 en 2024 nie ‘n enkele stukk grond onteien nie. Makashule Gana van RISE Mzansi sê dié inligting slaan weereens die waninligting oor die Onteieningswet in die wind:
# Die Stad Tshwane sê byna 250-miljoen-rand is nodig om 63 sinkgate reg oor die metro te herstel. Dit volg nadat nog ‘n sinkgat op die hoek van Burgerlaan en Langebrinkweg gevorm het, wat sommige huishoudings afsny en noodsaaklike dienste ontwrig. Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, sê hulle probeer sinkgate tot ‘n nasionale ramp geklassifiseer kry om toegang tot noodbefondsing te verkry:
# Tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Jasmine Paolini, gaan speel vir ‘n plek in die halfeindronde van die Italiaanse Ope nadat sy die eerste plaaslike speler in elf jaar geword het om die vierde ronde te oorleef. Sy het die 17de-gekeurde Jelena Ostapenko van Letland in skoon stelle verslaan en kom nou te staan teen die 13de-gekeurde Diana Shnaider. Die Russiese speler het Elise Mertens van België in die ronde van 16 verslaan. Die viermalige Grand Slam-kampioen Naomi Osaka het in drie stelle teen die Amerikaner Peyton Stearns verloor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-210-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-253-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-93-sent per vat.
# En laastens, die polisie het drie Chinese burgers op ‘n Japannese vakansie-eiland in hegtenis geneem nadat duisende lewende kluisenaarkrappe in verskeie tasse ontdek is. Die polisie sê ‘n hotelwerker op die Amami Oshima-eiland het omgewingsowerhede gewaarsku nadat hy ‘n geritsel in die tasse gehoor het. Die drie mans het personeel gevra om die tasse dop te hou. Beamptes het later die spiraalvormige kluisenaarkrappe in ses tasse gevind. Die polisie het aan CNN gesê die krappe is nasionale natuurverskynsels in Japan vanweë hul kulturele en wetenskaplike waarde en word deur Japannese wetgewing beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….