Nuus 13:00
BULLETIN 12 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godongwana waarsku welvaartbelasting kan veroorsaak dat Suid-Afrika sewe-miljard-rand per jaar verloor
# Drie oplossings word voorgestel om die personeeltekort in howe te verlig
# En Virat Kohli tree uit toetskrieket
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het gewaarsku teen die instelling van ’n welvaartbelasting en sê Suid-Afrika kan daarmee sewe-miljard-rand se jaarlikse inkomstebelasting verloor. Godongwana sê ongeveer twee-duisend-850 mense met ’n hoë netto-waarde, wat elk oor meer as vyftig-miljoen-rand se bates beskik, dra aansienlik by tot die land se inkomste. Hy beklemtoon dat die instel van so ’n belasting hierdie belastingbetalers moontlik kan aanmoedig om te verhuis, wat die belastingbasis kan ondermyn. Hy pleit eerder vir alternatiewe maatreëls om inkomste te verhoog sonder die risiko van kapitaal-ontvlugting.
# Die adjunk-regterpresident van die Gautengse Hooggeregshof, Roland Sutherland, het drie oplossings voorgestel om die tekort aan personeel en hulpbronne in howe te verlig. Hy het beklemtoon dat bykomende regters nodig is om die druk op die regstelsel te verlig, veral in geskilbeslegting. Sutherland het gepraat op ‘n bespreking deur Cliffe Dekker Hofmeyr en Ciarb oor geskilbeslegtiging in die handel. Hy beklemtoon die belangrikheid dat bemiddeling en arbitrasie as alternatiewe geskilbeslegtings-meganismes uitgebrei word om agterstande in howe te verlig:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het aangekondig genaturaliseerde burgers en wettige permanente inwoners kan van vandag af die eerste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis aansoek doen vir slimkaart-ID’s deur die eHomeAffairs-platform. Schreiber sê hierdie deurbraak in digitale hervorming bied waardigheid aan meer as 1,4-miljoen mense, insluitend honderde-duisende Suid-Afrikaanse burgers wie se waardigheid jare reeds geskend is weens ongelyke behandeling:
# Die Stad Kaapstad gaan ‘n voorlopige erfenis-beskermingsbevel in die hof betwis wat aan die ikoniese Athlone-kragstasie toegestaan is. Die stad voer aan die bevel bemoeilik herontwikkelingsplanne om die perseel te herskep ten einde energie-veerkragtigheid en ekonomiese groei te ondersteun. Erfenis Wes-Kaap hou vol die terrein se nywerheids- en kulturele betekenis regverdig amptelike beskerming. Die hof se beslissing kan ‘n presedent skep rondom die balans tussen erfenisbewaring en stedelike ontwikkeling.
# Krieket: Die Indiese kolflegende, Virat Kohli, het sy onmiddellike uittrede uit toetskrieket aangekondig, wat ’n einde bring aan sy toetsloopbaan van 14 jaar. Die 36-jarige Kohli het in sy 123 toetse nege-duisend-230 lopies aangeteken, wat 30 honderdtalle en 31 vyftigtalle insluit. Kohli sê hierdie langste formaat van die spel het hom getoets en gevorm, en lesse geleer wat hy lewenslank sal onthou. Hy sê hy stap weg met ’n hart vol dankbaarheid. Kohli se uittrede volg nadat Rohit Sharma ook verlede week sy toetsloopbaan vaarwel geroep het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-220-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….