Nuus 13:00
BULLETIN 9 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Media-organisasies veroordeel die moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat
# Die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf is in gevaar te midde van onderhandelings met Amerika
# En krieket: Die IPL word vir ‘n onbepaalde tyd opgeskort weens die militêre konflik tussen Indië en Pakistan
# Die Afrika-Media en Kommunikeerdersforum en die Nasionale Persklub het uitgevaar teen die moord op die bekende joernalis, Aserie Ndlovu, en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli. Die klub se waarnemende voorsitter, Antoinette Slabbert, sê die paartjie se oorskot is gisteroggend gevind. Sy sê die forensiese span het die oorskot positief geïdentifiseer en bevestig dat Ndlovu en Mdhluli vermoor en in ‘n veld in die KwaMhlanga-gebied in Mpumalanga gelaat is:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die voor-vonnisverrigtinge in die Joslin Smith-verhoor tot die 23ste uitgestel vir verdere raadpleging. Die vermiste dogtertjie se ma, Kelly, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn is verlede week skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel nadat die kind verlede jaar uit haar huis in Saldanhabaai verdwyn het. Daar heers steeds onsekerheid of die drie gaan getuig ter versagting van vonnis. Regter Nathan Erasmus sê nuwe inligting mag moontlik tydens die verrigtinge na vore kom:
# Suid-Afrikaanse varkboere het kommer uitgespreek oor die voortslepende handelsgesprekke met Amerika en vrees dit kan dalk lei tot die verslapping van bestaande veiligheidsprotokolle. Sulke veranderings kan moontlik nadelige gevolge hê vir die plaaslike varkvleisbedryf en wek kommer oor die toekoms van binnelandse produsente te midde van internasionale handelsverdragte. Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie, Peter Evans, het die noodsaaklikheid beklemtoon om plaaslike produsente teen die moontlike negatiewe gevolge van sodanige ooreenkomste te beskerm.
# Senior Amerikaanse en Chinese amptenare vergader die naweek in Genève, Switserland, om ‘n ontlonting van hul skadelike handelsoorlog te bespreek. President Donald Trump het ‘n tarief van ten minste 145-persent op die meeste Chinese invoere geplaas, en China het gereageer met ‘n tarief van 125-persent op sommige Amerikaanse invoere. Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, het optimisme uitgespreek en sê al wat hulle wil hê, is billike handel:
# Krieket: Die Indiese Premierliga is vir ‘n onbepaalde tyd opgeskort weens die dodelike militêre konflik tussen Indië en Pakistan. Die besluit is geneem nadat ’n wedstryd gister in Dharamsala gestaak is – minder as 200-kilometer van die noordelike stad Jammu waar ontploffings ure tevore aangemeld is. Indië het vandag op die derde dag van vyandighede gesê dat hy oornag ’n vlaag Pakistanse hommeltuig- en artillerie-aanvalle afgeweer het. Owerhede in Pakistan het meer burgerlike sterftes aangemeld. Pakistan het vroeër die oorblywende wedstryde van sy T20-liga na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-742-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….