Nuus 13:00
BULLETIN 29 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê ‘n wettige doel regverdig nie onwettige middele nie
# SALGA nader die hof vir ‘n interdik teen die instelling van AARTO se tweede fase
# En Venezuela se waarnemende president stel ‘n kommissie aan om die aardbewings se skade te bepaal
# President Cyril Ramaphosa sê die reg om te betoog en vryheid van uitdrukking gee mense nie toestemming om ander te dreig of te intimideer, of betrokke te raak by opsetlike beskadiging of geweld nie. Verskeie groepe beplan om môre teen ongedokumenteerde immigrante te betoog. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die regering aanvaar die land se immigrasiestelsel benodig aansienlike hervorming, daarom word grensbestuur versterk en afdwinging teen ongedokumenteerde immigrasie verhoog. Hy sê diegene wat beplan om te betoog, moet dit vreedsaam en wettig doen.
Die Suid-Afrikaanse Christenforum eis intussen ‘n onmiddellike einde aan Afrofobie, en vra alle leraars om die probleem van die preekstoel af teen te werk. Die forum se president, Marothi Mashashane, sê hulle kan nie stilbly en toekyk terwyl georganiseerde optogte en stelselmatige teistering teen mede-Afrikane plaasvind nie:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings het die Hooggeregshof in Pretoria genader vir ʼn dringende interdik teen die instelling van die tweede fase van die Wet op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe. Volgens dié wet sal verkeersoortredings administratief hanteer word en die las op howe verlig. Herhaalde oortreders sal deur ʼn strafpuntstelsel van die pad verwyder word. Sebang Motlhabi van SALGA sê AARTO hou finansiële gevolge vir munisipaliteite in:
Nuus uit die buiteland:
# Venezuela se waarnemende president, Delcy Rodríguez, het ‘n presidensiële kommissie gestig om te bepaal wat die skade aan behuising en infrastruktuur is ná Woensdag se twee kragtige aardbewings met sterktes van 7,2 en 7,5. Die dodetal staan tans op een-duisend-450 en meer as 12-duisend mense is ontwortel. Die kommissie word gelei deur die ingenieur Francisco Garcés. Rodríguez sê ‘n taakspan is ook gestig om tydelike huisvesting te voorsien vir mense wat hul huise verloor het, en om die herbou van behuising binne ‘n kort tydperk te beplan.
# Krieket: Engeland het 270 lopies nodig op die laaste dag op Trent Bridge om die derde en laaste toets teen Nieu-Seeland te wen en die reeks te beklink. Die gasheer het die eerste toets op Lord’s gewen voor die besoekers teruggeslaan het op die Oval. Die Swartpette het gister hulle tweede beurt op 288 vir nege gesluit na Daryl Mitchell se onoorwonne honderdtal, en aan Engeland ‘n wenteiken van 373 gestel. Engeland het met uitskeityd 103 vir vier bereik nadat Zak Foulkes drie paaltjies geneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-878-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….