Nuus 13:00
BULLETIN 6 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra ‘n geïntegreerde regsraamwerk vir seksuele wangedrag in onderwys
# Meer as 200 lede van Colombië se grootste dwelmkartel word aangekeer
# En ‘n gewese Olimpiese swemkampioen kry sy 10 medaljes terug
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die voortdurende seksuele wangedrag deur opvoeders in Suid-Afrikaanse skole, en die mislukking van bestaande wetgewing om leerders te beskerm. Claude Naiker van die vakbond sê onlangse verslae het beduidende leemtes in die wetgewende raamwerk uitgelig wat oortreders toelaat om steeds in die onderwyssektor te bly, wat leerders in gevaar stel. Hy sê skole moet veilige hawens wees waar kinders kan leer en groei sonder vrees vir mishandeling:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad verwelkom die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, se plan om ’n wetenskap- en vernuwingsfonds te stig nadat die Amerikaanse regering van groot gesondheidsnavorsingsprogramme onttrek het. Die raad voer aan die skielike verlies aan fondse bedreig belangrike werk op siektes soos MIV/Vigs en tuberkulose. Die raad se woordvoerder, Tendani Tsedu, sê hulle werk ook om twee-miljard-rand in te samel om plaaslike gesondheidsnavorsing te versterk:
# Colombiese owerhede het 217 lede van die land se grootste dwelmkartel, die Gulf Clan, in hegtenis geneem. Dit volg te midde van die uitbreking van die ergste geweld in die land sedert 2016. Die kartel word beskuldig dat hy net in die afgelope maand 24 lede van die veiligheidsmagte vermoor het. Die owerhede het beslag gelê op altesaam 6,8-ton dwelms, 123 vuurwapens en meer as 15-duisend rondes ammunisie. President Gustavo Petro sê die groep is besig met ‘n strategie om lede van die veiligheidsmagte stelselmatig uit te moor.
# Olimpiese Spele: Die voormalige Amerikaanse swemmer, Gary Hall Junior, het beloof om sy tien Olimpiese medaljes beter op te pas nadat dit verwoes is tydens die onlangse veldbrande in Los Angeles. Hy was verheug nadat die Internasionale Olimpiese Komitee dit vervang het. Die voormalige president van die IOK, Thomas Bach, het die medaljes oorhandig tydens ‘n seremonie in Lausanne, Switserland. Die 50-jarige Hall het vyf goue medaljes, drie silwer en twee brons ingepalm tydens die Spele in Atlanta in 1996, in Sydney in 2000 en vier jaar later in Athene.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-155-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-77-sent per vat.
# En laastens, twee arend-standbeelde, geïnspireer deur die Hobbits, het vir meer as ’n dekade ’n wakende oog oor besoekers gehou op die lughawe in Wellington, Nieu-Seeland. Die reuse-voëls sal Vrydag van die plafon losgemaak word om plek te maak vir ’n geheimsinnige nuwe uitstalling. Die arende verskyn as boodskappers in JRR Tolkien se The Lord of the Rings en The Hobbit, wat deur die Nieu-Seelander sir Peter Jackson verfilm is. Elke arend het ’n vlerkspan van 15-meter en op die rug van een van die voëls is ‘n beeldhouwerk van die towenaar Gandalf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….