Nuus 13:00
BULLETIN 3 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nelson Mandela-Kinderfonds doen ‘n beroep vir geregtigheid in sake van vermiste kinders
# Kelly Smith se huis in Middelpos word afgebrand na haar skuldigbevinding
# En, ladingsvermindering begin in dele van Soshanguve
# Die Nelson Mandela-Kinderfonds het die skuldigbevinding van Kelly Smith en haar mede-aangeklaagdes in die ontvoering en mensehandel van die sesjarige Joslin Smith verwelkom. Refilwe Mokoena van die Fonds het in ‘n gesprek met SABC News klem geplaas op geregtigheid vir onopgeloste kinderverdwynings. Joslin het in Februarie 2024 van haar huis in Middelpos, Saldanhabaai verdwyn. Mokoena doen ‘n beroep op meer pogings om Joslin op te spoor:
Intussen is die huis in Middelpos, Saldanhabaai waar Joslin Smith gewoon het, enkele ure na haar ma, kelly Smith se skuldigbevinding afgebrand. Die polisie het ‘n saak van brandstigting geopen, en ‘n vrou is vir ondervraging ingeneem. Die burgemeester van Saldanhabaai, André Truter, het die voorval bevestig:
# Die Stad Tshwane het inwoners van Soshanguve in Wyk 32, 37 en 39 gewaarsku oor ladingsvermindering in Sone 14A, 14B, en Uitbreidings 19A en 19B. Woordvoerder, Selby Bokaba, sê dit sal tot Vrydag volgende week voortduur. Hy het gewaarsku oor druk op transformators en die onlangse diefstal van hoofvoerkabels in die gebiede wat geraak word:
Eskom sê intussen die kragstelsel bly stabiel met volgehoue beplande instandhouding en verbeterde vlakke van onbeplande onderbrekings. Vanaf 1 April tot 1 Mei het onbeplande onderbrekings afgeneem tot 12-duisend-644 megawatt, terwyl 2-duisend-850 megawatt na verwagting voor piektyd Maandagaand beskikbaar sal wees. Die Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die nutsmaatskappy toon ’n jaar-tot-jaar verbetering van 1,6-persent ten opsigte van onderbrekings. Sy het bevestig dat Eskom sy wintervooruitsigte Maandag sal bekend maak:
# Sewe mense is dood in ’n botsing tussen ’n toerbus en ’n Chevy-bakkie naby die Yellowstone Nasionale Park. ‘n Verdere agt ander is beseer toe die bakkie en die bus wat 14 toeriste vervoer het, op ’n snelweg in Oos-Idaho, sowat 25 kilometer van Yellowstone se ingang gebots, en aan die brand geslaan het. Die pad was vir sewe uur gesluit terwyl noodspanne die slagoffers behandel en die ongelukstoneel opgeruim het. Yellowstone is Amerika se oudste nasionale park en beslaan byna vyf-duisend-600 vierkante kilometer. Omtrent vier-miljoen-toeriste, met die meerderheid tussen Mei en September, besoek jaarliks die park.
# En ons sluit af met rugby: Geskiedenis sal herskryf word wanneer die Springbokke hul 2025-seisoen op 28 Junie afskop teen die Barbarians by die Kaapstad-stadion. Dit sal die beroemde internasionale uitnodiging-span se eerste wedstryd op Suid-Afrikaanse bodem wees. Dit is die negende kragmeting tussen die twee spanne, en die eerste sedert 5 November 2016, toe die spanne by Wembley-stadion in Londen, met 31 elk gelykop gespeel het. Sedert hulle eerste wedstryd in 1952 het die Barbarians vier wedstryde gewen en die Springbokke drie, benewens die 2016 gelykopuitslag. Die Bokke se laaste oorwinning oor die Barbarians was op 10 Desember 2000 in Cardiff, met ’n telling van 41-31.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….