Nuus 13:00
BULLETIN 30 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# EFF vra volledig en deursigtige ondersoek na dood van drie polisiekonstabels
# Ramaphosa stel Alistair Ruiters as sy spesiale raadgewer vir beleggingsbevordering aan
# En, rugbynuus: Pieter-Steph du Toit is terug na ‘n skoueroperasie
# Die EFF vra ‘n volledige en deursigtige ondersoek na die dood van drie polisiekonstabels, Cebekhulu Linda, Boipelo Senoge, Keamogetswe Buys en burgerlikes. Die party sê die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moet antwoorde verskaf aan die families en die publiek, hy moet sê wat gebeur het en hoekom, en wie moet aanspreeklik gehou word. Die party sê die talle liggame in een rivierstelsel, in ʼn kort tydjie en beperkte geografiese radius, dui op ʼn groter en moontlik gekoördineerde patroon van geweld wat dringende en deeglike ondersoek vereis.
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige direkteur-generaal van Handel en Nywerheid, Alistair Ruiters, as sy spesiale raadgewer oor beleggingsbevordering aangestel. Hy het onder meer ‘n Filosofie-graad van Oxford en ‘n BA Honneursgraad van die Universiteit van Kaapstad. Ramaphosa se woordvoeder, Vincent Magwenya, sê die regering stel ‘n omvattende reeks ekonomiese hervormings in wat bedoel is om Suid-Afrika aantrekliker en meer lonend vir plaaslike en internasionale beleggers te maak:
# Lede van die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge het kommer uitgespreek oor watter optrede teen die Padongelukkefonds ingestel moet word. Dit volg na ʼn voorlegging deur die Spesiale Ondersoekeenheid wat onregmatige en wanbesteding van staatsfondse by die instelling uitgelig het. Die Ondersoekeenheid se bevindings het sommige LP’s ontstel en een beskryf die inhoud as ongelooflik. Ander, soos David Skosana van die MK-party, reken die fonds moet voor die komitee verskyn voor daar oor verdere optrede besluit word:
# Drie Chinese ruimtevaarders het vandag na ses maande op die land se Tiangong-ruimtestasie na die Aarde teruggekeer, terwyl Beijing vorder met sy doelwit om ‘n groot ruimtemoondheid te word. China het die afgelope paar jaar miljarde rande in sy ruimteprogram belê in ‘n poging om te verwesenlik wat president Xi Jinping as die land se ruimtedroom beskryf. Die wêreld se tweede grootste ekonomie het groot planne om teen die einde van die dekade ‘n bemande sending na die Maan te stuur en uiteindelik ‘n basis op die maan te bou.
# Rugby: Die goeie nuus vir Springbok-ondersteuners is dat Pieter-Steph du Toit, een van die Wêreldbekerhelde, ná ‘n skoueroperasie terug in Japan is. Dit is egter nog nie duidelik wanneer hy weer sal speel nie. Hy het laas in November gespeel, en sy span, Verblitz, staar relegasie in die gesig met slegs twee ligawedstryde om te speel. Du Toit moet weer wedstrydfiks word sodat hy op 28 Junie vir die Bokke teen die Barbarians kan uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-19-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-284-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….