Nuus 13:00
BULLETIN 28 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM sit 12 vertrekpunte vir plaaslike regeringshervorming uiteen
# Oekraïne val oornag ’n raffinadery in Rusland se Krasnodar-streek aan
# En Brand SA sê Bafana se Wêreldbeker-prestasies versterk Suid-Afrika se internasionale beeld
Die UDM het twaalf vertrekpunte vir plaaslike regering uiteengesit wat daarop gemik is om munisipaliteite te herbou en openbare vertroue te herstel. Dit sluit in, betroubare basiese dienste, skoon regering, billike tariewe, plaaslike ekonomiese ontwikkeling, behuising, landelike en stedelike vernuwing, en verantwoordbaarheid. In ‘n toespraak by die Sesde Nasionale Kongres in KuGompo-stad in die Oos-Kaap, het die partyleier Bantu Holomisa ‘n beroep op verkose raadslede gedoen om etiese leierskap en verbeterde dienslewering landswyd by munisipaliteite te verseker:
# Die ondersoek- en navorsingsorganisasie sonder winsbejag, Open Secrets, sê ‘n klein groepie privaat-instellings beheer ongeveer ses duisend-miljard-rand se pensioenbates, wat bydra tot ongelykheid en die verwaarlosing van maatskaplike prioriteite. Die organisasie sê ekonomiese eienaarskap in Suid-Afrika is steeds hoogs-gekonsentreer onder ‘n paar groot korporatiewe spelers. Volgens die hoof van die ondersoekeenheid, Mike Marchant, dui verslae op voortgesette oorheersing deur groot beleggingsgroepe. Terwyl die staat, deur die Openbare Beleggingskorporasie, beduidende markinvloed het, kan dit nie strukturele ekonomiese uitdagings aanspreek nie.
# ActionSA sê hy is diep bekommerd oor die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se beweerde stap om fondse aan die Stad Johannesburg te staak. Die party blameer die ANC-geleide administrasie onder burgemeester Dada Morero vir die finansiële wanbestuur, met verwysing na skuld aan Eskom en Rand Water. Mpumi Edward van ActionSA sê die situasie bedreig dienslewering en vra verantwoordbaarheid vir die plaaslike regeringsverkiesing. Sy dring aan op dringende ingryping om munisipale finansies in Johannesburg te bestendig:
# Oekraïense hommeltuie het oornag Russiese teikens, insluitend ‘n olieraffinadery in die suidelike Krasnodar-streek, aangeval, terwyl Kiëf voortgaan met aanvalle op die energie-infrastruktuur wat brandstoftekorte in dele van Rusland veroorsaak het. In ‘n verklaring op Telegram het die Krasnodar-streekgoewerneur, Veniamin Kondratiev, gesê ‘n brand het by die raffinadery in Slavyansk-na-Kubani uitgebreek, met een persoon dood en ‘n ander beseer in ‘n nabygeleë dorpie. Die goewerneur van die Yaroslavl-streek, oos van Moskou, het gesê daar is ‘n hommeltuig-waarskuwing in die streek met tydelike beperkings op sommige paaie na die Russiese hoofstad.
# Sokker: Lionel Messi het van die bank af gekom om ‘n doel aan te teken en nog ‘n rekord te verbeter terwyl Argentinië hul perfekte begin tot die Wêreldbeker-toernooi voortgesit het met ‘n gemaklike oorwinning oor Jordanië in Dallas. Nadat hy op die bank was, met Argentinië wat reeds Groep J gewen het, is Messi in die 60ste minuut onder die luide toejuiging op die veld gebring. Hy het ‘n lae vryskop om die doelhok gekrul om Argentinië se voorsprong te vergroot. Jordanië is nou uitgeskakel, terwyl Argentinië die nuweling, Kaap Verde, in hul laaste Ronde-32-wedstryd pak.
# En ten slotte: Die uitvoerende hoof van Brand South Africa, Neville Mattjie, sê Bafana Bafana se FIFA Wêreldbeker-prestasie versterk die land se wêreldwye beeld en bewys dat negatiwiteit nie nasionale veerkragtigheid kan ondermyn nie. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon hy dat die span se sukses Suid-Afrika in die internasionale kollig geplaas het en gesprekke oor handel, toerisme en beleggings aangewakker het. Hy sê betrokkenheid by Mexiko en die VSA het die belangstelling van ondernemings uitgelok wat graag geleenthede wil verken:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….