Nuus 13:00
BULLETIN 25 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die mislukking van die Inligtings- en Tegnologie-agentskap
# Ondernemings skarrel om BTW-veranderinge op hul stelsels om te keer
# En Lesotho hou ‘n spesiale mis ter ere van wyle pous Franciskus
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is bekommerd oor die voortslepende leierskapskrisis en skynbare gebrek aan gevolgebestuur by die staat se Inligting- en Tegnologie-agentskap. Die agentskap het in die 2022/23-boekjaar 456-miljoen-rand onregmatig bestee en 112,5-miljoen-rand in die volgende boekjaar, terwyl die leierskap kort-kort verander het. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê onlangse onthullings het ingewortelde mislukkings en gebreke ontbloot wat voortgaan om die agentskap te teister, en sy mandaat en openbare vertroue te ondermyn:
# Baie Suid-Afrikaanse ondernemings skarrel volgens berigte om die duur BTW-veranderings aan hul stelsels weer om te keer. Dit volg nadat die regering die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte wat op 1 Mei sou intree, geskrap het weens politieke teenkanting en koalisiegeskille. Dit laat ondernemings wat in die opgradering van hul stelsels belê het, met vermorste uitgawes. News24 berig klein ondernemings word die swaarste getref deur die administratiewe las om prysstrukture en rekeningstelsels weer te verander terwyl groter korporasies met gevorderde toerusting dit makliker kan doen.
# Die koninkryk van Lesotho het ‘n spesiale mis ter ere van wyle Pous Franciskus gehou in die Our Lady of Victory-katedraal in Maseru. Daar is ‘n beduidende Rooms-Katolieke gemeenskap in Lesotho. Koningin Masenate Seeiso en eerste minister Sam Matekane, wat albei toegewyde Katolieke is, het die diens bygewoon en hul medelye betoon. Die kerk se aartsbiskop, Tllali Lerotholi, het teenoor SABC News die pous se begeerte benadruk vir vrede in oorloggeteisterde lande:
# Padwedlope: Die Keniaanse driedubbele Olimpiese-kampioen Faith Kipyegon gaan op 26 Junie in Parys, Frankryk, probeer om die eerste vrou te word wat ’n myl in onder vier minute hardloop. Dit maak deel uit van Nike se Breaking4-projek, wat die handelsmerk se vorige Breaking2-projek met wêreldkampioen Eliud Kipchoge navolg. Die vise-president van Nike se sportnavorsingslaboratorium, Amy Jones Vaterlaus, sê Kipyegon sal die modernste hardloopskoene dra en manlike pasaangeërs gebruik tydens die poging. Sy sê die wedloop is daarop gemik om te inspireer en vroue-langafstandhardloop te herdefinieer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 21-rand-42-sent teen die euro en 25-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-677-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-49-sent per vat.
# En laastens, die immergewilde Kaapstadse Internasionale Jazz-fees word van vandag die 22ste keer aangebied. Die fees skop af met ‘n gratis konsert op Groentemarkplein voor môre en Sondag se hoofoptredes in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die kunstenaars wat gaan optree sluit in Ari Lennox, Black Coffee, die Igor Butman-kwartet, Thandiswa Mazwai en Incognito. Die geleentheid is gemik op die viering van plaaslike en internasionale talent wat die ryk verskeidenheid van die jazz-genre tentoonstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….