Nuus 13:00
BULLETIN 24 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugtrekking van die BTW-verhoging word wyd verwelkom
# Winde sê die bekendmaking van ‘n verslag oor die gebou-ramp in George kan suksesvolle vervolging kniehalter
# En kardinale uit Afrika tree na vore as gunstelinge om pous Franciskus op te volg
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die besluit om die voorgestelde BTW-verhoging te skrap. Die party sê ‘n aangepaste begroting sal nou ter tafel gelê word. Partyleier Corné Mulder sê daar moenie in die nuwe begroting ‘n ander vorm van belastingverhoging of heffing ingestel word om die BTW-verhoging te vervang nie. Hy sê hulle sal deelneem aan die komende prosesse om te verseker die alternatiewe begroting bevoordeel gewone Suid-Afrikaners wat reeds onder geweldige druk is:
Die vakbondfederasie COSATU het intussen die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit geloof om BTW nie te verhoog nie. Dit volg op regstappe deur die DA en die EFF. Matthew Parks van Cosatu sê om die BTW op 15-persent te hou sal die druk op die werkersklas verlig. Hy vra ‘n hersiening van bestedingsplanne:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se kantoor sê die bekendmaking van die ondersoekverslag na die ineenstorting van die gebou in George kan polisiewerk belemmer. Die provinsie het ‘n onafhanklike ondersoek laat instel nadat die vyfverdiepinggebou in Mei verlede jaar ingetuimel en 34 lewens geëis het. Winde se kantoor sê hy verstaan die publiek se belangstelling in die tragedie, maar as verantwoordelike regering mag hy niks doen wat suksesvolle vervolging in gedrang sal bring nie.
# Afrika-kardinale kom na pous Franciskus se dood na vore as sterk aanspraakmakers op die pousskap. Volgens Reuters is van die voorste kandidate Peter Turkson van Ghana, wat maatskaplike geregtigheid en klimaatskwessies voorstaan, en Fridolin Besungu van die Kongo wat vrede in konfliksones bevorder. Afrika het ‘n toenemende invloed op die Katolieke Kerk met meer as 176-miljoen lidmate. Sommige in die binnekringe van die Vatikaan is skynbaar steeds skepties oor ‘n swart pous, terwyl talle dit sien as ‘n geleentheid om Afrika se stem in die kerk te versterk.
# Motorsport: Die wêreldbeheerliggaam, F-I-A, het die Amerikaanse motormaatskappy General Motors formeel goedgekeur as ‘n enjinverskaffer vir Formule Een vanaf 2029. Dit beteken dat Cadillac, wat volgende jaar die eerste keer deelneem, Ferrari-enjins sal gebruik tot General Motors se enjins amptelik bekragtig is. Die sport sal dus vanaf 2029 ses verskillende enjinverskaffers hê. Die ander is Ferrari, Mercedes, Honda, Red Bull Powertrains-Ford en Audi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 21-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-369-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….