Nuus 13:00
BULLETIN 22 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oekraïne vra Suid-Afrika om Zelensky se besoek en insluiting in G20-beraad te steun
# Die DA beskryf die komende BTW-verhoging as ‘n strategie teen armes
# En die wêreld rou oor die dood van pous Franciskus
# Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika, Liubov Abravitova, vra Suid-Afrikaners om president Volodimir Zelensky se staatsbesoek Donderdag te ondersteun. Dit volg ná president Cyril Ramaphosa se formele uitnodiging aan Zelensky en sy deelname aan die komende G20-leiersberaad. Abravitova sê Suid-Afrika se leierskap van die G20 sal onvolledig wees sonder om Oekraïne te betrek en pogings tot ‘n regverdige en volhoubare vrede te ondersteun. Sy sê dit is noodsaaklik om Rusland se inval te veroordeel en die Oekraïne se insluiting in wêreldwye vredesonderhandelings te verseker.
# Die DA kritiseer die beplande BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte en noem dit ‘n strategie teen groei, werksgeleenthede en die armes. Die Hooggeregshof in Kaapstad hoor vandag die party se dringende aansoek aan vir ʼn interdik teen die beplande BTW-verhoging. Die DA-lid Mark Burke het buite die hof gesê hulle is gekant teen ʼn blinde en onbeholpe begroting wat die lewe vir Suid-Afrikaners duurder gaan maak:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het sy meegevoel met die metro se Katolieke gemeenskap uitgespreek na die dood van pous Franciskus. Die 88-jarige pous is gisteroggend aan beroerte en hartversaking dood. Hy is onlangs uit die hospitaal ontslaan nadat hy weke lank vir ʼn infeksie behandel is. Hill-Lewis sê dis betekenisvol dat pous Franciskus in Christene se heiligste week van Paasfees dood is:
Die Al Jama-ah-party se leier, Ganief Hendricks, sê intussen Franciskus se voorspraak vir menseregte en sy uitsprake teen Israel se optrede in Gaza sal gemis word. Hy sê die pous het ʼn trotse nalatenskap wat die uitdaging van ongeregtigheid insluit:
Rugby: Die Nieu-Seelandse vrouevleuel Portia Woodman-Wickliffe het haar uittrede opsy geskuif met die hoop om haar land te help om vanjaar die Wêreldbeker vir vroue die derde agtereenvolgende keer te wen. Die 33-jarige het in Augustus verlede jaar uitgetree nadat sy saam met die Swart Varings-sewesspan hul tweede Olimpiese gouemedalje gewen het. Sy het sedertdien in Japan gespeel en ‘n suksesvolle drie maande by die Blues gehad in die Superrugby Aupiki-reeks. Die Swart Varings se afrigter, Allan Bunting, sê Woodman-Wickliffe sal ’n goeie toevoeging tot die span wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 21-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-427-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-455-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….