Nuus 13:00
BULLETIN 17 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verkeersvolumes op paaie na Limpopo sal na verwagting aansienlik toeneem
# Padwedlope: Stad Kaapstad onttrek sy steun aan die Twee Oseane-marathon
# En die komediant Nate Bargatze gaan die Emmy-prysuitdeling aanbied
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê verkeersvolumes op paaie na die provinsie sal na verwagting vanmiddag aansienlik toeneem, met mense wat na verskillende bestemmings reis vir die Paasnaweek. Die departement se woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê wetstoepassingsbeamptes is op strategiese plekke op die hoofroetes ontplooi. Sy sê hulle sal verkeersvloei bestuur, verkeersoortredings bekamp en veiligheid op paaie verseker:
Paasnaweek-reisigers kan intussen vertragings verwag op die N2 tussen George en Wildernis in die Suid-Kaap weens voortgesette padwerke. Die padagentskap SANRAL waarsku dat slegs een laan in albei rigtings oop is tussen die Kraaibosch-wisselaar en Wildernis. Verkeersbeamptes sal tot sesuur vanaand beskikbaar wees om verkeer by sleutelkruisings te reguleer. Verkeersveiligheidsbeamptes sal ook aan diens wees. SANRAL maan padgebruikers om veiligheid voorop te stel die naweek.
# Die DA in die Wes-Kaap vra die nasionale Department van Gesondheid om pro-aktief strenger regulasies te ontwikkel oor die gebruik van e-sigarette onder die jeug, veral kinders tussen 14 en 18. ‘n Onlangse studie benadruk dat 17-persent van jongmense in dié ouderdomsgroep e-sigarette gebruik, terwyl 38-persent dit daagliks rook. Memory Booysen van die DA sê damprook onder tieners is besig om toe te neem in spesifieke skole, veral in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap:
# Padwedlope: Kaapstad se mees ikoniese wedloop, die Twee Oseane-marathon, se einde is moontlik in sig. Dit volg nadat die Stad Kaapstad sy ondersteuning onttrek het weens permit-oortredings. Die metro het twee permitte uitgereik vir die wedlope van die vyfde en sesde van die maand: een vir 14-duisend atlete vir die ultra-marathon oor 56-kilometer, en een vir 17-duisend vir die halfmarathon oor 21-kilometer. Volgens die metro het die organiseerders 20-duisend-600 atlete toegelaat vir die ultra-marathon en 17-duisend-677 vir die halfmarathon. Die organiseerders sê hulle raadpleeg hul prokureurs.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 21-rand-48-sent teen die euro en 25-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-370-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Die komediant Nate Bargatze is aangewys as seremoniemeester vir die 77ste Emmy-toekennings in die Peacock-teater in Los Angels op 14 September. Hy het verlede jaar die meeste geld as komediant verdien en 1,2-miljoen kaartjies verkoop. Bargatze het tot nou ses spesiale vertonings vrygestel met die onlangse Your Friend, Nate Bargatze op Netflix. Hy sê dis ‘n groot eer om so ‘n ikoniese geleentheid aan te bied en hy is opgewonde om ‘n aand te skep wat deur alle mense oral in die wêreld geniet kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….