Nuus 13:00
BULLETIN 16 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ACDP verdedig sy parlementslid se reis na Israel
# Noordwes se Gesondheidsdepartement begin armlastige begrafnisse vir onopgeëiste mynwerkers van Stilfontein
# En spanne is op ‘n gereedheidsgrondslag vir moontlike swaar reën en sneeu in KwaZulu-Natal
# Die ACDP het sy parlementslid, Steve Swart, se onlangse reis na Israel verdedig en dit as ’n regmatige feitesending beskryf, wat deur die party goedgekeur is. Die ACDP het die kritiek van die ANC en die GOOD-party verwerp en die reg beaam van Christelike gelowiges om die Heilige Land te besoek. Partyleier Kenneth Meshoe het die ACDP se veroordeling van Hamas se 7 Oktober-aanvalle herhaal en Israel se reg op selfverdediging erken:
# Noordwes se Gesondheidsdepartement sê hy het nie ‘n ander keuse as om armlastige begrafnisse te hou vir die onopgeëiste liggame van onwettige mynwerkers van Stilfontein nie. Woordvoerder Tshegogatso Mothibedi het aan die SABC gesê slegs 12 van die 78 liggame wat uit Skag 11 gehaal is, is uitgeken deur familielede. Hy het ook bevestig DNS-monsters is van alle liggame geneem:
# Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê spanne is op ‘n gereedheidsgrondslag terwyl reën en sneeu in die provinsie verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ‘n kouefront wat temperature sal laat daal en swaar reën en moontlik sneeu tot gevolg sal hê. Die departement se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê hoewel die Weerdiens nie sê die provinsie gaan in sneeu getooi wees nie, moet motoriste die weervoorspellings monitor en versigtig wees:
# Sokker: Verskeie beheerliggame verskil van die Suid-Amerikaanse federasie, Conmebol, oor die uitbreiding van 2030 se Wêreldbekertoernooi vir mans na 64 spanne. Die beheerliggaam van Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande, Concacaf, UEFA in Europa en AFC in Asië is daarteen gekant. Hulle sê volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika moet eers plaasvind, wat reeds uitgebrei word van 32 na 48 spanne. Die wêreldliggaam, Fifa, gaan die voorstel volgende maand bespreek. Die toernooi word in 2030 aangebied deur Spanje, Portugal en Marokko, met sommige wedstryde in Suid-Amerika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 21-rand-50-sent teen die euro en 25-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-815-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Die regering het Inheemse Bomedag gevier met die aanplanting van 100 inheemse bome in nasionale botaniese tuine landwyd. Toe die eerste Inheemse Bomedag verlede jaar gevier is, was daar duisende deelnemers by 26 plekke in 12 Afrikalande. Die veldtog, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut gelei word, is deel van ‘n vasteland-wye poging om plaaslik aangepaste, bedreigde en vrugdraende spesies te bewaar. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ‘n ambisieuse teiken gestel om vanjaar ‘n miljoen bome te plant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….