Nuus 13:00
BULLETIN 10 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Toename in ekonomiese transaksies word aangeteken in Maart
# Trump kanselleer befondsing vir die koördinering van Amerikaanse klimaatsnavorsing
# En tennis: Billie Jean King word die eerste sportster om vereer te word op Hollywood se Walk of Fame
# BankservAfrica se aanwyser vir ekonomiese transaksies het verlede maand ‘n effense styging getoon en 137,1 punte bereik – ‘n styging van 0,3-persent vanaf Februarie. Hierdie styging dui op ‘n gunstige kleinhandelomgewing, ondersteun deur wesensinflasie wat tans laag is op 3.2-persent en die prima-uitleenkoers wat 75-basispunte laer is as ‘n jaar gelede. Die data dui egter ook op ‘n toenemende swakheid in Suid-Afrika se ekonomie, met die aanwyser wat ‘n weerspieëling is van die uitdagende ekonomiese omgewing.
# The Green Connection en Natural Justice het amptelik beswaar aangeteken teen olie- en gas-opnames in Blok 9 en 11B/12B van die Outeniekwa-kom in die Wes-Kaap. Die organisasies voer aan die verkenning, ontwikkeling en stroomaf-gebruik van olie- en gasbronne sal onaanvaarbare hoeveelhede kweekhuisgasse vrystel. The Green Connection se woordvoerder, Liz McDaid, sê om klimaatsverandering te bekamp, moet die regering alle nuwe fossielbrandstofprojekte staak:
# President Donald Trump het die befondsing van Amerika se navorsingsprogram oor klimaatsverandering opgeskort wat die federale regering se verslag oor die kwessie saamstel. Die Amerikaanse Klimaatsbeoordeling word elke vier jaar uitgereik en is Amerika se omvattendste beraming van die huidige uitwerking van klimaatsverandering en klimaatwetenskap. Kenners sê die beoordeling speel ‘n groot rol in besluitneming oor landbou, energie-opwekking en grond- en watergebruik. Die volgende verslag word in 2027 verwag.
# Tennis: Die Amerikaanse legende Billie Jean King sê sy wil nie die laaste sportster wees aan wie ‘n ster op Hollywood se Walk of Fame toegeken word nie. Die 81-jarige is vereer in die nuwe sportvermaaklikheid-kategorie op die beroemde sypaadjie in Los Angeles, wat vroeër tot sterre van rolprent, televisie, radio, teater en musiek beperk was. King het 39 enkel- en dubbelspel- Grand Slam-titels gewen, en die WTA-liggaam gestig vir beroepsvrouespelers. Sy is ook ‘n voorstander van geslagsgelykheid en maatskaplike geregtigheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-47-sent teen die dollar, 21-rand-49-sent teen die euro en 25-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-694-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-108-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-9-sent per vat.
# En laastens, alles is gereed vir die MK-party se landwye viering van sy stigter, oudpresident Jacob Zuma, se 83ste verjaarsdag Saterdag. Die party sê hy het politieke byeenkomste en programme in al die provinsies gereël ter ere van sy bydrae tot Suid-Afrika se vryheidstryd. MK se woordvoerder, Nomahlubi Radebe, sê Zuma gaan in KwaZulu-Natal praat, terwyl ander senior lede van die party byeenkomste gaan lei in Soweto in Gauteng en Rustenburg in Noordwes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….